Robertson Krieket Klub is tans eerste op die punteleer van die Boland-krieket-promosieliga en het die eerste ronde onoorwonne uitgetree.
Hulle het die afgelope naweek teen Coronations van Pniel gespeel en dit was weer ’n goeie oorwinning vir Robertson se A-span.
Die B-span het egter vasgeval.
Die tellings was:
Robertson KK het eerste gekolf en 221 lopies aangeteken voordat almal uitgeboul is. Hierna het Robertson vir Coronations vir ’n skamele 64 uitgeboul.
Robertson se puntemakers was Juandre Mouries (35 lopies), Luwaydon Siegelaar (32) en Warren Davids (26).
Robertson se beste boulers was Leswin Arendse (ses boulbeurte, 17 lopies en drie paaltjies) en Warwick Abrahim (vyf boulbeurte, 14 lopies en drie paaltjies).
Kurtley Peterson was Coronations se beste bouler (10 boulbeurte, 44 lopies en drie paaltjies) en Danico Philmon sy beste kolwer met 16 lopies.
Robertson se B-span het 245 lopies teenoor Coronations se 294 aangeteken.
Coronations se puntemakers was Theo van Wyk (76 lopies) en J Meyer (88). Robertson se beste kolwer was Clinton Geduld met 35 lopies.
Robertson Krieket Klub se A- en B- spanne speel Saterdag (9 Desember) teen Caledon Krieketklub op Callie de Wet-gronde op Robertson en die B-span reis na Caledon.



