’n Plaasaanval in die Wolseley-omgewing is gefnuik ná ’n boer op die aanvallers teruggeskiet en hulle gevlug het.
Die Wolseley-polisie het bevestig dat die voorval op 6 Januarie tussen 22:00 en 22:45 gebeur het.
Die betrokke boer het gaan ondersoek instel toe die honde begin blaf het. Hy het mans met klapmusse aan buite die huis gekry en hulle het glo op hom begin geskiet, waarna die boer op hulle teruggeskiet het.
Die beweerde aanvallers het daarna gevlug en volgens die Wolseley-polisie is niemand in die voorval beseer nie.
Die polisie het die toneel die aand van die voorval en die volgende oggend (7 Januarie) gefynkam en koeëldoppies gevind wat hulle hoop om met ’n vuurwapen of moontlik ’n ander misdaad te verbind.




