’n Rower het vir ’n werknemer van die oogkundige praktyk Bierman Janeke R10 in die geldboksie gelos en vir haar gesê sy “moet vir haar ’n koeldrank gaan koop” nadat hy haar kort tevore met ’n vuurwapen met die dood gedreig het.
AO Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, sê die rower, wat ’n masker en pet gedra het, het hom aanvanklik as ’n kliënt voorgedoen.
“Die verdagte het die winkel Maandag om 16:30 betree en aan ’n werknemer binne die winkel gesê hy wil na die RayBan-brille kyk,” verduidelik Jacobs.
Kort hierna het hy die werknemer vir geld gevra.
“Sy het toe vir die verdagte gesê dat daar nie geld in die winkel is nie.
“Die verdagte het toe ’n vuurwapen uitgehaal en dit op die werknemer gerig, waarna hy haar opdrag gegee het om na die kantoor, wat in die winkel is, te gaan.
“Hy het haar aangesê om nie ’n geluid te maak of die paniekknoppie te druk nie en gedreig om haar dood te skiet, sou sy enige van die twee doen.”
Die rower het die geldboksie opgespoor.
“Hy het een van die laaie in die lessenaar oopgemaak, die geldboksie oopgemaak en die geld wat daarin was, uitgehaal. Hy het ook geld gevat wat onder die boksie gebêre was. Die verdagte het ’n R10-noot in die boksie gelos en aan die werknemer gesê sy moet vir haar ’n koeldrank koop.
“Daarna het hy haar beveel om saam met hom tot by die deur te loop voordat hy by die winkel uit is,” sê Jacobs.
Geen skote is in die rooftog afgevuur nie en niemand is beseer nie. Standard het Dinsdag die eienaar van die onderneming, Reinach Janeke, gevra hoe dit ná die rooftog by die praktyk gaan.
“Dit gaan goed onder die omstandighede. Ons is hartseer en geskok oor wat gebeur het, maar ons is dankbaar niemand is beseer nie,” het hy gesê.



