’n Rookwolk het Woensdag 18 Oktober oor dele van Worcester gehang en Standard het gaan ondersoek instel.
Volgens Sewes Pretorius van die plaaslike brandweerdienste het talle veldbrande ontstaan en die brandweerpersoneel het hul hande vol gehad met verskeie brande oral om die dorp.
Die eerste brand wat Standard teëgekom het, was dié van ’n vullishouer in Zwelethemba wat aan die brand gesteek is. Die plaaslike brandweer het egter die vuur, wat naby die tydelike ingang teen die R60 (Robertsonpad) ontstaan het, dadelik geblus.
Nog ’n brand wat ontstaan het, was dié by die Rainbow-plaas – ook reg langs die R60, waar dit blyk ’n veldbrand ontstaan het.
Personeel van Rainbow, wat op die plaas woon, verduidelik die brand het ongeveer 15:30 ontstaan. Dit blyk oorhoofse kragdrade, wat kontak gemaak het, was die sondebok.
Pretorius het bevestig dat hulle die situasie gemonitor het.
Die distriksmunisipaliteit se brandweerwerkers het ook elders vure geblus.
Teen druktyd is geen lewensverlies of verlies aan eiendom aangeteken nie.
Tydens Standard se besoek aan die Rainbow-plaas het die brandweerdienste die situasie gemonitor terwyl werknemers bang was dat die vuur na die geboue of huise en selfs die store, waar gasbottels gestoor word, sou spring.





