Oorstroming van klaskamers tydens swaar reën wat lei tot grootskaalse ontwrigting van onderrig het die Wes-Kaapse onderwysdepartement genoop om ’n splinternuwe skoolgebou vir Roodewal Primêre Skool in Worcester te bou.

So het die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, dié week aan Standard gesê.

Volgens die LUR is altesame R75?miljoen begroot vir konstruksiewerk aan die nuwe skoolgebou wat middel 2024 sal begin. Bouwerk sal teen Desember 2025 voltooi wees.

Hy sê die nuwe skoolgebou gaan geleë wees op dieselfde perseel as die huidige skoolgebou, maar op ’n hoër vlak, bokant die stormwaterpyp wat tans probleme by die skool veroorsaak.

Volgens Maynier gaan die huidige skoolgebou – sodra die nuwe skoolgebou opgerig is – gesloop word.

Hy sê onderrig by die skool sal nie tydens die konstruksiefase ontwrig word nie.

Rhodney Visagie, wat op Roodewal se wykskomitee dien, sê dis goed dat Roodewal Primêre Skool ’n nuwe skoolgebou gaan kry.

Hy sê dis net jammer dat dit nog so lank gaan neem voor daar met bouwerk begin word omdat onderrig met elke oorstroming ontwrig word.

Volgens hom word leermateriaal en klaskamers in die proses beskadig.

Hy sê indien die nuwe skoolgebou ’n saal gaan hê, kan dit ook dien as fasiliteit vir inwoners van Roodewal waar hulle vergaderings kan hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article