Otniel Fredericks (58), ’n legendariese inwoner van die Worcester-omgewing, is ter ruste gelê en sal altyd deur die Roodewal-skool-gemeenskap onthou word.
Volgens Fazlin Cupido, die sekretaresse by Roodewal Primêre Skool, was hy ’n “mensemens en altyd vriendelik met ’n glimlag op die gesig en ’n regte omgee-mens”.
Otniel was vir 18 jaar van 2002 tot 2020 die finansiële hoof by Roodewal. Hy was passievol oor sy werk, het Cupido per WhatsApp aan Standard gesê.
Sy sê ook laggend baie mense het gedink hy is die skoolhoof vanweë sy liefde vir dié skool.
“Otniel was my lift elke middag, want teen daardie tyd toe ek by Roodewal begin, kon ek nog nie bestuur nie,” het Cupido vertel.
Volgens haar was hy ook die een wat haar aangemoedig het om haar vrees vir bestuur te oorkom.
“Dit was vir hom [Otniel] ’n riem onder die hart die dag toe ek sê hy is ontslae van my, want ek het my lisensie gekry,” het Cupido gesê.
Sy onthou Otniel ook vir sy kosmaak-vernuf. Hy het elke Vrydagaand vir sy familie gebraai en met interessante disse geëksperimenteer.
“Van burgers tot steaks, kreefpotte en só – die lys kan aangaan. Ek het natuurlik elke Vrydagaand ook ’n foto gekry van wat hy voorgesit het,” onthou Cupido.
“Ek sal altyd sy menswees, sy omgee vir ander, sy saggeaardheid en sy kosmaakgees onthou.”
Elfrieda Fredericks het hiérdie stelling ook bevestig en gesê hy kon “toor met wat ookal in die huis was”.
Volgens haar was haar man ook ’n “trotse mens” en het hy enige prestasie met mense gedeel.
“Alles wat hy gedoen het moes mense van geweet het,” het Elfrieda laggend gesê.
’n Spesiale herinnering wat vir ewig in Cupido se hart weggebêre sal wees, is die ritte in sy “afdakkar” wat haar seuns geniet het.
“Dit was vir Otniel ’n groot plesier om my tweelingseuns vir ’n drive te vat nadat hy eers die dak laat sak het vir hulle twee om te sien terwyl hulle in die motor by hom gesit het.”
Volgens Cupido was haar seuns gaande daaroor en sy sal hom altyd vir dáárdie oomblikke wat sy en haar seuns met hom gedeel het, onthou.
Verskeie Worcesteriete, insluitend Antoinette Steyn, die burgemeester van die Breederivier-munisipaliteit, sowel as Roodewal Primêre Skool en Worcester FM het vaarwelboodskappe op hul Facebook-blaaie gedeel.
Hulle beskryf OD, soos hy aan vele bekendstaan, se heengaan as ’n groot verlies.
Volgens Elfrieda is Otniel op 26 Maart oorlede aan ’n beroerte en is die afgelope Saterdag (1 April) in sy tuisdorp ter ruste gelê.
Otniel word benewens sy vrou, ook deur sy seun en dogter oorleef.




