Inwoners van Roodewal is keelvol vir die vullis en gemors wat oral in die gebied verspreid lê en meen mede-inwoners moet hul kant begin bring.
Johanna Klein, ’n inwoner van die omgewing, meen sy moet elke dag die onooglike gemors aanskou en kinders in die omgewing wat gereeld in die strate speel, moet in ’n vuil omgewing grootword.
“Oral waar jy kyk, sal jy vullis sien. Dit is om van naar te word.”
Sy is van mening die omgewing het nie genoeg vullishouers nie en genoeg skoonmaakaksies word nooit in die omgewing gedoen nie, maar sy voel ook dat mede-inwoners die sondaars is.
“Hier is nie genoeg vullishouers nie, maar mense kan op ’n beter manier van hul gemors ontslae raak. Mense is al so gewoond aan die gemors en voel as hulle ook ’n papier of twee neerstrooi, dit nie juis ’n impak gaan maak nie.
“Elke liewe papiertjie of blikkie of plastieksak dra by tot die gemors. Mense moet ophou,” verduidelik Klein aan Standard.
Haar buurman, Willem Visser, ondersteun Klein se mening en is verder van mening hulle as lede van die gemeenskap voel soms of die munisipaliteit van hulle vergeet.
“Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) is gou om probleme te kom oplos en riool te kom opsuig, maar hulle kom maar min hierheen om ons mense toe te spreek of te kyk wat ons behoeftes is. Ons is dankbaar vir sekere raadslede en komiteelede wat gereeld inloer en gesig wys, maar die groot probleme word nooit werklik bespreek nie.”
Standard het al talle kere oor hierdie verskynsel reg oor die streek, wat ’n erge kopseer vir baie inwoners is, berig.
Die BVM sê egter hy verwyder gereeld die vullis in alle gebiede volgens die roosters en sê die plaaslike aanleg vir vullis en herwinning is tot die publiek se beskikking.
Chad Malgas, ’n woordvoerder by die BVM, meen spanne het hul hande vol met uitdagings wat uit onwettige rommelstrooiery spruit.
Die BVM stel ook gereeld inligting in die gemeenskap beskikbaar, asook op aanlyn platforms om mense aan te moedig om nie rommel te strooi nie.
“In die meeste gevalle is dit onwettig en mense verwyder en strooi dit ook in grootmaat. Dit is kommerwekkend dat inwoners die wet oortree.”
Die BVM, tesame met die gemeenskap, verskeie raadslede en rolspelers het onlangs gebiede in die vallei begin diens met skoonmaakaksies en hoop om meer sulke inisiatiewe van stapel te stuur.
Malgas voeg by dat die EPWP-projek gereeld in die area ook werk, maar meen dat vandalisme ’n groot rol speel.





