Sanelisiwe Mlanjeni in haar nuwe rolstoel, wat moontlik gemaak is deur die Cooper-gesin in samewerking met die Breedevallei- Vereniging van en vir mense met gestremdhede. By haar is Florence Prinsloo, Dini Mlanjeni, Liezel van der Westhuizen, Chantel Cooper en Zanel Cooper.


By die Laerskool Wynland word hard gestreef om ’n gevoel van omgee onder die leerders en in die skool te kweek.

Leerders het tydens die laaste week voor die onlangse skoolvakansie werklik iets besonders beleef.

Een van dié skool se leerders ly aan ’n serebrale gestremdheid wat veroorsaak dat sy rolstoelgebonde is.

Sanelisiwe Mlanjeni is tans ’n gr. 6-leerder. Hoewel sy al baie struikelblokke oorkom het, is een van haar grootste uitdagings dat sy slegs een rolstoel het. Haar rolstoel is baie swaar en moeilik om van die huis tot by die skool te vervoer.

Sanelisiwe het wonderlike vriende en een van haar beste vriendinne, Zanel Cooper, was bekommerd oor die vervoerprobleme met haar rolstoel.

Zanel en haar gesin is self al deur moeilike omstandighede. Zanel se ma, by wie borskanker gediagnoseer is, weet presies hoe dit voel as ’n gesin moeilike mediese uitdagings ondervind.

Dié twee maats het mekaar nog altyd ten volle ondersteun. As Sanelisiwe ’n moeilike dag het, sal Zanel haar altyd ondersteun en haar met opvoeders en klasmaats help kommunikeer.

Sanelisiwe se pa is ook met diabetes gediagnoseer en het onlangs albei sy bene verloor. Dit is dus ’n baie uitdagende tyd vir die Mlanjeni-gesin.

Zanel en haar ma, Chantel, gesels dikwels oor hul en ander se omstandighede.

Dit is ná so ’n gesprek dat Chantel besluit om sake in eie hande te neem.

Deur samewerking met die Breedevallei- Vereniging van en vir mense met gestremdhede kon hulle vir Sanelisiwe ’n splinternuwe rolstoel gee, wat sy by die skool kan hou.

Die skool is baie dankbaar teenoor die Coopers en die Breedevalleise vereniging vir hul bydrae om Sanelisiwe se skoolomgewing meer toeganklik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article