Die gemeenskap van Worcester het vandeesweek behoorlik hul asem opgehou toe hul nederige goue dogter, Rogail Joseph (24), hul harte laat swel het met haar uitstekende vertonings by die Olimpiese Spele.

Sy het deurgedring na die halfeindronde van die 400m-hekkies vir vroue nadat sy Sondagoggend by die Stade de France in Parys ’n persoonlike beste tyd behaal het toe sy tweede in die tweede uitdunronde met ’n tyd van 54,56 sekondes geëindig het.

Ná haar uitsonderlike vertoning het die gemeenskap van Worcester die strate in gevaar om hul hekkies-uitblinker te vier.

Die opwinding en trots wat Joseph se prestasie in haar tuisdorp ontlok het, is ’n bewys van haar toewyding en harde werk. Die gemeenskap het Dinsdagaand in spanning gewag om te sien hoe sy in die halfeindronde vaar, met die hoop dat sy hul harte weer met trots sal laat swel.

En Dinsdagaand was die hele Worcester voor die kassie vasgenael om Rogail in die halfeindronde te ondersteun en almal het gejuig toe sy derde in haar vinnigste tyd nog – 54,12 – geëindig het. Sy het egter net-net nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.

Haar eertydse afrigter Rodney Booysen meen dis ’n groot eer dat sy aan die Olimpiese Spele deelneem. Hy het haar begin afrig toe sy dertien jaar oud was. Sy het ook vir ’n tyd onder die vaandel van Fit2Run gehardloop.

“Ek en sy praat nog elke dag; veral nou. Haar senuwees is ’n bietjie gedaan, dus gee ek haar raad om haar te help kalmeer. Toe ek haar net begin afrig het, was sy ’n bietjie lui, maar oor die jare het sy meer en meer begin insit – veral nadat sy haar eerste SA kampioenskap in 2016 gewen het. Ek het destyds al die potensiaal in haar raakgesien. Ons het soggens 05:00 geoefen en dan weer 17:00 die middag,” verduidelik die trotse Booysen.

Joseph se ma, Ronel Mauries, meen sy het nie net haar ouers trots gemaak nie, maar ook die hele Worcester.

“Sy het selfs ook die hele wêreld trots gemaak. Ek is so trots op haar. Dat ’n kind van ’n agtergeblewe gebied sulke hoogtes kan bereik en dat sy in haar eerste jaar by die Spele so goed vaar, is ongelooflik. Ons senuwees was gedaan terwyl sy gehardloop het; daar was trane van blydskap en hartseer omdat sy dit nie verder gemaak het nie. Maar ek het vir die jeug gesê laat dit nou vir hulle wys dat jy wel bo jou omstandighede kan uitstyg.”

Benewens Rogail se vaardighede pronk nog sportlui uit die Breedevallei en Langeberg by die Spele. Die gebied word goed verteenwoordig by die 2024- Olimpiese Spele ook met Montagu se Ronald Brown en Worcester se Christie Grobbelaar, wat lid was van die Blitzbokke-span wat brons gewen het. Hierdie was Brown se tweede keer dat hy aan die Spele deelgeneem het.

“Dit was vir seker een van die beste [Spele] nog. Ek kan dit glad nie vergelyk met ’n normale Doebai of Kaapstad-7’s nie. Die stadion was ongelooflik, die rugby was van die beste en om daar te kon wees, was ’n voorreg. Ons het as nommer 12 in die toernooi gegaan. Mense en ander spanne het ons afgeskryf – sekerlik oor die donker dae wat ons dié seisoen as ’n span gehad het. Ons kon definitief meer klinies wees, maar om ’n medalje by die grootste sport byeenkoms in die wêreld te kry, is só spesiaal,” vertel Brown.

Chauncey Johnson, ’n oud-leerder van Victoriapark Primêr en die Hoërskool Esselenpark, is daar in die kleure van Duitsland, waar hy die afrigter van die nasionale paalspringspan is. Ook Worcester se Francios Prinsloo het as diskusgooier aan die spele deelgeneem. Dié Worcester Gim alumnus woon en studeer tans in Amerika. Hy meen sy eerste Olimpiese Spele was ’n ervaring van gemengde gevoelens.

“Dit was ’n ervaring; baie op en af. Die Olimpiese Spele self was uiters vermaaklik sowel as ’n wonderlike ervaring – wonderlike mense, ongelooflike atmosfeer en lekker kos,” vertel hy via Instagram die dag nadat hy nie vir die volgende rondte kwalifiseer het nie.

Hy het voorheen al aan die Jeug- Olimpiese Spele deelgeneem en sy land op verskeie ander geleenthede in diskus verteenwoordig. Hy sê wel sy onlangse kwalifisering was vir hom ’n verrassing. “Om te kwalifiseer was so ’n surrealistiese ervaring, want dit het gebeur toe ek dit die minste verwag het. Ek was baie bly en opgewonde dat ek uiteindelik my droom kon verwesenlik. Ek is nogal teleurgesteld in my prestasie; ek het verwag om baie beter te doen, veral nadat ek my opwarming gesien het. Dit is duidelik dat ek nog jonk en onervare is en ’n bietjie meer tyd as ’n professionele atleet nodig het om ten volle uit my talente en geleenthede te kan munt slaan. Hopelik sal ek borge kan vind wat my volgende jaar in staat sal stel om dit te doen.”

Die Ceres-boorling Adrian Wildshcutt het ’n epiese wedloop in die 10 000 m gehad en deur die grens van 27 minute gebreek. Alhoewel Adrian 10de geëindig het, was sy tyd (26:50,64) vinniger as sy vorige rekord.

Dit is boonop die tweede keer dat hy die SA rekord in dié item vanjaar oortref. Dit is sowat vyf sekondes vinniger as sy vorige SA rekord, wat hy vroeër vanjaar in Amerika opgestel en sodoende die eerste Suid-Afrikaner geword het wat deur die 27-minute-grens bars.

Wildshcutt het die gemeenskap van Ceres op sy Facebook-blad bedank vir hul oneindige ondersteuning nadat hy verlede week gehardloop het.

“Ek wil net vir die mense van Ceres/Bella Vista baie dankie sê vir hul ongelooflike ondersteuning gisteraand. Ek het alles op sosiale media gevolg. Ek het nog nooit so iets ervaar nie. Maar ek wil net my dankbaarheid teenoor julle toon. Toe daardie laaste vyf rondes baie moeilik begin word, het ek net gedink aan Ceres/Bella Vista en almal wat my ondersteun en wat na my opkyk. Opgee was nie ’n opsie nie. Daardie wedloop was vir julle almal. Onthou – ek het in dieselfde dorp en dieselfde gebied grootgeword as jy; daar is nie meer verskonings nie – jy kan enige iets bereik waarop jy jou kop sit.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article