Talle berigte het al oor Worcester se foutiewe verkeersligte verskyn – veral dié by die kruising van Kerkstraat en die R43, asook die N1-afrit na die R43, maar niks word daaraan gedoen nie.
Lesers van Standard het al in twee uitgawes gedurende 2023 die probleem aangehaal, en ’n week gelede is selfs ’n informele gesprek daaroor op sosiale media gevoer.
Beurtkrag of nie – dié verkeersligte werk net wanneer hulle wil.
Tydens ure wanneer die krag aan is, werk die verkeerslig by Kerkstraat se pyl wat moet aandui dat die verkeer moet regs draai, glad nie. Dit veroorsaak dan ’n onnodige opeenhoping van motors in die regterbaan, wat voorkom kon word as die Breedevallei Munisipaliteit proaktief wil optree.
Gedurende beurtkrag werk dié ligte geensins nie, hoewel dit ’n besige gebied in die dorp is.
Hoekom word ’n batterystelsel nie geïnstalleer om die verkeersligte tydens kragonderbrekings aan die gang te hou nie?
Hierdie oplossing sal die verkeer gewis beter laat vloei én belastingbetalers ’n bietjie hoop gee.
Dan is daar die N1-afrit na die R43 waar motors keer op keer tot vyf minute lank staan voordat die robot groen wys.
Dit veroorsaak dat motors wat links of regs na Altona-singel of op die R43 wil draai, kanse waag en oor ’n rooi robot ry, wat ’n botsing met aankomende verkeer kan veroorsaak.


