WELLINGTON – Eerskomende Saterdag (23 November) sal Robertson Town en Worcester Villagers mekaar in die Sanlam Boland Top 12-eindstryd die stryd aansê om te bepaal wie vanjaar die kroon as Sanlam Boland-klubkampioen sal dra.
Town het verlede Saterdag (16 November) sy plek in die eindstryd bespreek toe hy Caledon in die eerste halfeindstryd ná ’n taai stryd voor ’n volgepakte Boland-rugbystadion in Wellington met 38-30 die loef afgesteek het.
In die Robertson-teen-Caledon-kragmeting het die Caledonners vroeg in die wedstryd danksy ’n strafdoel deur Lorenzo Swart (heelagter) die voortou geneem.
Robertson het egter kort hierna die leisels oorgeneem nadat hy ’n lynstaanbal van Caledon in sy kwartgebied gegaps en Eugene Adendorff (vaskopstut) ná volgehoue druk oorgeval het. Ná die suksesvolle doelskop was die telling 7-3.
Hierna het die wedstryd wipplank gery.
Enslin Johnson het minute later vir Caledon gaan druk en Caledon neem die voortou met 10-7. Maar nie vir lank nie, want Town kry ’n strafdoel en sake word gelykgemaak.
In die 27ste minuut is Robertson egter deur ’n wakker Rowan Heneke (flank) aan die slaap betrap. Heneke het ’n vinnige tikskop binne Town se kwartgebied geneem en deurgenael vir Caledon se tweede drie. Swart het seker gemaak van die doelskop en die Canola Boys het weer die voortou geneem, met die telling op 17-10.
Nie lank hierna nie het Robertson ná ’n kragtige dryfmaalbeweging met ’n drie deur Abdura-Ouf Gallie (haker) teruggeslaan. Willemse se visier was egter uit en Caledon se voorsprong krimp na 17-15.
’n Langafstand-strafdoel deur Swart het Caledon se voorsprong vergroot na 20-15.
Caledon was goed op koers toe Swart hierna ook ’n pragtige skepdoel van Robertson se 10-meterlyn hoog deur die pale jaag en sy span se voorsprong verder vergroot, tot 23-15.
Net voor rustyd het Robertson met ’n kragskrum deur sy voorhoede teruggekap. Freginald Africa (veelsydige losvoorspeler) het die bal agter opgetel en oorgeduik. Willemse het die doelskop oorgeklits om die rustydtelling op 23-22 te staan te bring, met Caledon steeds ’n kortkop voor.
Kort ná rustyd het Robertson weer die voortou geneem toe die woelige Africa ná volgehoue druk vir sy tweede drie oorgaan. Willemse se doelskop was tussen die pale deur en Robertson loop voor met 29-23.
Robertson het beheer van die wedstryd geneem en in die 58ste minuut sy voorsprong met nog ’n Willemse-strafdoel na 32-23 vergroot.
Kort hierna is Caledon met ’n geelkaart gestraf. Willemse het verder sout in hul wonde gevryf deur die maklike strafskop, reg voor Caledon se pale, oor te skop om die telling 35-23 te maak.
Maar Caledon wou nie bes gee nie. Met speeltyd byna verstreke het hy steeds veggees getoon. Lorenzo Swart het soos ’n warm mes deur botter gesny en met ’n pragdrie afgerond.
Willemse het in die doodsnikke van die wedstryd met ’n strafdoel geslaag en daarmee die wedstryd buite bereik van Caledon geplaas. Die eindtelling was 38-30 in Robertson se guns.




