Wie gaan Saterdag koning kraai in die Top-12 finaal op Boland-stadion Wellington – Villa se Edward Haas of Town se Jumainuine Arendse? Foto: Samlam Top-12


Die Sanlam-Boland-rugbyunie, een van die 14 unies in Suid-Afrika, met nagenoeg 20 000 geregistreerde spelers op klub- en skoolvlak, lok jaarliks meer as 100 000 ondersteuners na rugbyvelde in die Boland.

Die Sanlam-Boland-rugbyunie strek oor ’n groot geografiese gebied in die Wes-Kaap, insluitend dorpe soos Vanrhynsdorp, Saldanhabaai en Bredasdorp wat 13 plaaslike munisipaliteite in die Kaapse Wynland-, Overberg- en Weskusdistrikte insluit. Meer as 200 rugbyklubs en 480 spanne ding jaarliks van Februarie tot November om die gesogte Sanlam-Boland-trofee mee.

Op 12 Oktober het die taaiste uitklopronde van Sanlam- Boland Rugby met die twee topspanne van die ses streke vir die Boland Rugby-titel afgeskop. Saterdag (16 November) het dit ’n klimaks bereik toe die laaste vier spanne – die verdedigende kampioen Safcol United, Caledon, Robertson en Worcester Villagers – mekaar die stryd aangesê het in die halfeindronde op die Boland Rugby-stadion in Wellington.

Caledon, een van die twee Overberg-verteenwoordigers, het Robertson in die eerste halfeindronde die stryd aangesê en die vonke het uit die staanspoor behoorlik gespat. Daar was min onderskeiding tussen die twee spanne – slegs ’n enkele punt se verskil in die rustydtelling van 23-22, wat Caledon net-net voor geplaas het.

Die tweede helfte het die skare op hul voete gehad, met uitstekende uitkloprugby en Robertson van die Breëlangebergstreek wat Caledon met uithaler-rugby uitoorlê en die wedstryd met 38-30 gewen het.

Die tweede halfeindronde tussen die verdedigende kampioen, Safcol United (Overberg), en die voormalige Boland kampioen Worcester Villagers (Breëlangeberg) het die ondersteuners tot die laaste minuut regop laat staan. Met ’n gelykopuitslag van 17-17 ná die eerste helfte het ondersteuners seker gemaak hulle doen alles wat halftyd gedoen moet word om nie die rillerstryd wat aan die gang was, mis te loop nie.

Safcol en Villagers het nie teleurgestel nie. Hulle het bobaas-rugby gespeel en die skare verheug. Briljante spel deur beide spanne, met asemrowende aangeë en bewegings, het ondersteuners na hul asems laat snak.

Villagers het egter Safcol se blaf gesmoor en hom in die laaste minute getroef toe hy die uitklophou met twee briljante drieë geplant en ’n sege met 49-39 verseker het. Met dié oorwinning het Worcester Villagers verseker dat hy – en nie Safcol nie – Saterdag (23 November), Robertson op Boland Rugbystadion in die eindronde pak.

Rugbyondersteuners, Sanlam-Boland Rugby en die borge kon nie vir ’n beter eindronde vra nie, want dit is twee van die oudste klubs in Boland Rugby en in Suid-Afrika wat in 1883 (Villa) en 1917 (Town) gestig is en steeds klubrugby bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article