Collin Willemse, losskakel van Robertson Town, probeer ’n paar Saldanha-verdedigers ontwyk. Robertson en Saldanha het in ’n Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd op die Van Zylstraat-sportveld kragte gemeet. Robertson het naelskraaps met 25-24 gewen. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

ROBERTSON. – Die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie van die Boland-rugbyunie het Saterdag (21 Oktober) in alle erns afgeskop.

Verskeie uitspeelwedstryde is in die Bolandgebied gespeel.

Robertson Town en Saldanha RVK het mekaar op die Van Zylstraat-sportveld in Robertson gepak. Dié kragmeting was ’n titaniese stryd waarvan die uitslag tot die einde toe in die weegskaal was.

Robertson, die Breë-Langebergstreekwenner, het Saldanha RVK, die verdedigende Grootuitdaagbeker-klubkampioen van die Boland, naelskraaps met 25-24 ore aangesit.

Die Weskussers het vroeg in die wedstryd die voortou geneem nadat Monray Jacobs (skrumskakel) met twee strafdoele geslaag het.

Die tuisspan het egter met ’n pragdrie deur sy buitesenter, Jennewill April, hierop teruggeslaan. Collin Willemse (losskakel) het verdoel en die telling was 7-6 vir Robertson.

Sowat tien minute voor rustyd het Robertson die besoekers se doellyn verwoed aangeval.

Gershwin Africa (skrumskakel) het ’n gaping in die verdediging gevind en gaan druk. Willemse se doelskop was egter van koers af, maar die telling het tot 12-6 gegroei, met Robertson steeds voor.

Minute later het Jacquin Jansen, losskakel van Saldanha, die verdediging met ’n pragtige breekslag oopgekloof en ver met die bal gehardloop. Toe hy platgetrek word, is Robertson by die afbreekpunt gestraf.

Jacobs, wat goed gekorrel en sy span deurgaans in die wedstryd gehou het, het sy derde strafdoel tussen die pale deurgejaag om die telling 12-9 te maak.

Regan Swarts, Roberston se regtervleuel, het sy span se tweede drie kort voor rustyd ná ’n sterk skrum en puik taktiese spel tussen Willemse en Jovelian de Koker (binnesenter) gedruk en die Langebergers met rustyd 17-9 laat voorloop.

Saldanha het in die tweede helfte met mening teruggeveg.

Hy het egter twee lynstane in ’n aanvallende posisie verbrou voordat Jansen (losskakel) die besoekers se eerste drie in die linkerhoek gedruk het.

Hierdie keer het Jacobs die teiken gemis, maar die telling het tot 17-14 aangeskuif.

Minute later het Jacobs egter met ’n suksesvolle strafdoel weer die kol getref, waarna die spanne gelyk getrek het met die telling 17 elk.

Ongelukkig het die tuisspan kort hierna sy nr. 4-slot, Curtley Timm, vir tien minute verloor.

Timm is met ’n geelkaart gestraf omdat hy ’n teenstander tydens ’n lynstaan in die lug gespeel het.

Timm het skaars op die strafstoel gaan sit, toe druk die besoekers se kaptein, Divan Joshua (haker), ná ’n skitterende dryfmaalbeweging van ’n lynstaan af.

Jacobs het die doelskop oorgeklits en Saldanha het weer die voortou geneem met die telling 24-17.

Toe spel hervat word, het Robertson met oorgawe in die lug vir die bal meegeding, waarna ’n losskrum ontstaan het. Saldanha het by die afbreekpunt oortree en ’n strafskop is aan die tuisspan toegeken.

Jaundré Joseph, heelagter van Robertson, wat die stelskopwerk oorgeneem het nadat Willemse vervang is, se suksesvolle strafdoelpoging het sy span se agterstand verklein toe die telling 24-20 word.

Hierna het die tuisspan weer verwoed aangeval en ’n onverdoelde drie gedruk, waarmee hy met slegs enkele minute speeltyd oor weer die voortou herwin het met die telling 25-24.

Saldanha het egter geweier om bes te gee en met ’n geweldige aanslag vorendag gekom. Die voor- en agterspelers het die bal tussen hulle rondgeskuif en die tuisspan in sy eie kwartgebied behoorlik laat bontstaan.

Robertson het in sy pogings om Saldanha van sy doellyn af weg te hou, ’n oortreding begaan.

In plaas van koelkop bly en eerder aanlê pale toe, het oorywerigheid en oorhaastigheid besit van die besoekers geneem. Saldanha het ’n vinnige tikskop geneem en verwoed doellyn toe gestorm.

Ongelukkig vir die verdedigende kampioen het die tuisspan sy hande op die bal gekry en uitgeskop.

Shane Muller (die skeidsregter) het die eindfluitjie net hierna geblaas en Robertson het sy eerste Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting teen die verdedigende kampioen naelskraaps met 25-24 gewen.

Uitslae: Ronde 1:

Safcol United 21-15 Wesbank

Darling 39-40 Hawston

Mamre 23-45 Young Hamiltons

Robertson Town 2524 Saldanha

Bella Vista 29-12 Delicious NW

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article