Die Robertson Vollies hou hierdie naweek ’n spoggeleentheid by Avolon Springs in Montagu om sy 25ste bestaansjaar te vier.

Dié groep vorm deel van ’n unieke onderwyserskorps, waarvan die oorgrote meerderheid afgetredenes en ’n baie klein groepie steeds in die tuig is.

Hulle is almal afgestudeerdes van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) in Oudtshoorn.

Robertson Vollies is vanjaar geëerd om die 25ste reünie van oudstudente van hierdie kollege aan te bied. Altesame 250 Vollies van oor Suid-Afrika heen, sowel as van Namibië, sal hierdie spoggeleentheid bywoon.

Die Opleidingskollege Suid-Kaapland, voorheen bekend as Opleidingskollege Bridgton, het sy deure in 1952 in Oudtshoorn geopen.

Aangesien Oudtshoorn die hart van volstruisboerdery is, is die naam “Vollies” – afgelei van volstruis – aan dié kollege-studente gegee.

Die kollege is in 1996 deur die owerhede gesluit, maar pronk met ’n ryke geskiedenis van 45 jaar waartydens dit ’n groot invloed oor die land heen gemaak het. Studente het van Namibië, Gauteng, Limpopo, die Noord-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en die Oos-Kaap gekom om die kollege by te woon.

Talle van dié oud-studente sowel as oud-dosente het mense van formaat geword – op die gebied van die opvoeding, politiek, sport, die kunste en vele ander beroepsvelde.

Hoewel die kollege nie meer bestaan nie, lewe sy geskiedenis steeds voort. Van hierdie opvoedings-instituut word steeds met groot agting deur menige oud-studente en ander gepraat.

Die saamtrekprogram sluit in ’n outydse sportdag hierdie Saterdag (28 September), gevolg deur ’n spogdinee met die tema “An evening in Black & White”, waartydens die Vollie-koning en -koningin gekroon word. Die musiekvermaak word verskaf deur New Strings van Worcester.

Sondag (29 September) begin die dag met ’n erediens in die plaaslike VGK Kerk, en om 16:00 word ’n outydse skoolkonsert gehou met items deur Vollies van verskillende dorpe en stede.

Vir meer besonderhede oor die saamtrek, Whatsapp die voorsitter van die reünie-komitee, Jamiel Abrahim, by 071 254 8836 of per epos: jamiel1abrahim@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article