Klein-kassie liefhebbers sal binnekort ’n heerlike nuwe kosmaakreeks op kykNET te sien kry – en dit ook met ’n deelnemer van Robertson daarin.
Die nuwe Kokkedoor Vuur & Vlam-reeks wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET in die plek van Die Real Housewives van die Wynlande.
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom aansit en oor die jare het nog familielede van die reeks, Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie, geurryke vermaak verskaf.
Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.
’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.
Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en Eat Out-beoordelaar Herman Lensing en kosfoendi Errieda du Toit deel is van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan.
Nicole Buirman (35) van Robertson, wat gaan deelneem, is ’n ma van twee seuns en sy en haar man teel met honde. Met haar braaivernuf het sy Ultimate Braaimaster se top-10 gehaal en ook al verskeie potjiekos-kompetisies gewen.


