Christo Lukas (73 lopies) en Warwick Abrahim (53 lopies) het die afgelope naweek verseker dat die Robertson-krieketklub (RKK) Piketberg ’n behoorlike loesing op Piketberg se tuisveld gee.
RKK speel in Boland-krieket se Promosieliga en is tweede op die punteleer.
Robertson het eerste gekolf en 243 lopies in die wedstryd van 50 boulbeurte per span aangeteken. RKK het Piketberg vir ’n skamele 60 lopies uitgeboul. Saam met Lukas en Abrahim het Warren Davids (45), Gregan Adams (34) en Rolan Evertson (26) die tellinghouers besig gehou.
Luwayden Siegelaar (sewe boulbeurte, ses lopies en vier paaltjies), Narinsamy Padiachy (vyf boulbeurte, 19 lopies en twee paaltjies) en Jupeter Hopp (drie boulbeurte, nege lopies en een paaltjie) het Piketberg se kolwers laat bontstaan.
Piketberg se beste kolwer was L. Ockhuis met 12 lopies. P. Owies (10 boulbeurte, 38 lopies en 1 paaltjie) het die beste met die bal gedoen.
RKK speel dié naweek teen Young Peoples van Paarl in die Paarl en die B-spanne speel op die Callie de Wet-stadion.
Vrouekrieket
Die Robertson-krieketklub (RKK) nooi vroue van enige ouderdom om by die klub aan te sluit en die klub se vrouekrieket na groter hoogtes te neem. Die vroue oefen Dinsdae en Donderdae om 17:30 op die Callie de Wet-stadion.
Kontak Dieter Jeneke (hoofafrigter) by 072 419 9864 of Almarie Salies by 079 546 4769 met navrae.



