Die Breë-Langebergstreekwenner en voorloper in groep B van die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie, Robertson Town, het sy veldtog in dié kompetisie met nog ’n oortuigende bonuspuntsege ’n stewige hupstoot gegee.
Robertson het verlede Saterdag (19 Oktober) na Ceres gereis waar hy die Ceres-rugbyklub in ’n Sanlam-Boland- Top-12-wedstryd (groep B) op die Victoriapark-sportterrein die stryd aangesê het.
Robertson, wat rustyd 22-19 voor was, het die tuisspan in ’n opwindende kragmeting met 43-26 ore aangesit.
Die wedstryd het aanvanklik wipplank gery voordat Town in die tweede helfte behoorlik beheer oorgeneem het.
’n Begeesterde Ceres het eerste punte aangeteken toe sy regtervleuel, Jacobus Philander, gaan druk en William van Wyk, losskakel, met die doelskop geslaag het. Dit het Ceres vroeg met 7-0 laat voorloop.
Hierna het Robertson se losskopstut, Jasherie Karriem, ’n losbal vorentoe geskop en agter die doellyn toegeval om die telling 7-5 te maak.
In die 22ste minuut het Robertson vir die eerste keer die voortou geneem toe die skitterende Jovelian de Koker Ceres se verdediging aan flarde geruk en die haastige Rune Lucas, linkervleuel, vir ’n pragdrie weggestuur het.
Collin Willemse (losskakel) se doelskop was tussen die pale deur en het gesorg dat Robertson met die eerste lemoenbreuk 12-7 voorloop.
Ceres het egter weer die voortou geneem toe sy linkervleuel, Derrick Fredericks, gaan druk en Van Wyk (losskakel) se doelskop tussen die pale laat deurseil het (14-12).
Hierna het ’n Willemse-strafdoel die leisels egter weer aan Robertson besorg (15-14), maar daarmee saam ook ’n einde aan die wipplankryery gebring, want die besoekers het hierna beheer van die wedstryd geneem.
Jenno April (senter) het in die 38ste minuut gaan druk, terwyl Willemse in die kol was met die doelskop (22-14).
Net voor rustyd het Ceres, wat deurentyd besonderse veggees getoon het, met ’n onverdoelde drie teruggeslaan om steeds binne trefafstand te bly (22-19).
Die spanne het gaan water drink met die telling steeds 22-19 in Robertson se guns.
Nadat spel vir die tweede helfte hervat is, het Robertson op al sy silinders gevuur.
De Koker en Freginald Africa het gaan druk, terwyl Willemse beide vyfpunters verdoel het. Die telling het na 36-19 vir Robertson gegroei.
Vir Ceres het die opdraand al steiler geraak, maar natuurlik het dié nooit ophou veg nie en later met ’n drie deur Arno van Wyk (haker) wat deur William (losskakel) verdoel is, teruggeslaan om die telling 36-26 te maak.
Dit het die tuisspan weer hoop gegee en hoewel Ceres hierna vir Robertson in die laaste klompie minute onder geweldige druk geplaas het, was die Breë-Langebergstreekkampioen se verdediging rotsvas.
Uiteindelik het Lucas (linkervleuel) net voor die eindfluitjie ná ’n praglopie die wedstryd met ’n skitterdrie vir Robertson verseël.
Willemse het seker gemaak van die doelskop, wat die eindtelling op 43-26 te staan gebring het. Jovelian de Koker, kookwatersenter van Town, is verdienstelik as die Sanlam Confident-Player of the Match aangewys.




