Die Bonnievale Blue Birds-rugbyklub het verlede Saterdag (18 Mei) vir ’n groot opskudding in die Grootuitdaagbeker-afdeling in die Breë-Langebergstreek gesorg.
Hy het teen die verwagting in vir Robertson Town in ’n opwindende rugbykragmeting met 40-36 ore aangesit.
Town, die 2023-Breë-Langebergstreekwenner en huidige voorloper in die streek, het voor hierdie wedstryd nog nie een ligawedstryd verloor nie.
Town was tot op hede soos ’n wegholtrein wat alles voor hom platgevee het. Al sy vorige teenstanders, hetsy tuis of weg, het die onderspit gedelf.
Hierdie merkwaardige segetog het aan Town die topposisie op die punteleer besorg, ’n posisie wat hy beklee sedert die eerste skote in vanjaar se Grootuitdaagbekerliga geklap het.
Maar toe tree Blue Birds verlede Saterdag soos die Bybel se Dawid van ouds voor Goliat (Town) in en bring die blou-en-wit wegholtrein met ’n begeesterde vertoning op die Happy Valley-sportterrein in Bonnievale tot stilstand.
Blue Birds, wat allerweë as die buiteperd vir hierdie wedstryd beskou is, was met rustyd 26-24 teen die meer gedugte Town voor.
Die uitslag was tot in die doodsnikke van die wedstryd in die weegskaal, maar op die ou einde moes Town, wat die oorweldigende gunsteling was om die wedstryd te wen, tog die knie buig.
Blue Birds het die wenpunte in die laaste oomblikke van die opwindende stryd aangeteken om die kragmeting naelskraaps met 40-36 in sy guns te beklink.
Met dié onverwagse nederlaag teen die Birds, wat sewende op die punteleer lê, het Town ook sy onoorwonne status prysgegee.





