’n Skepdoel deur sy ster-losskakel, Colin Willemse, in die 67ste minuut van die wedstryd was op die ou einde deurslaggewend vir Robertson Town om vir die halfeindronde van die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie te kwalifiseer.
Die halfeindronde-wedstryde word eerskomende Saterdag (16 November) by die Boland-rugbystadion in Wellington beslis.
Robertson het Safcol United in die vyfde en laaste groep-B-wedstryd van die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie ná ’n klipharde kragmeting naelskraaps met 30-29 geklop en sal komende Saterdag teen Caledon in die een halfeindstryd speel.
In die ander halfeindstryd sal Safcol, wat reeds voor hierdie kragmeting gekwalifiseer het, die Worcester Villagers pak.
Verlede Saterdag (9 November) se stryd op die Van Zylstraat-sportterrein was egter uiters fisiek en het sy tol geëis.
Die skeidsregter, Jabian Jaftha, het twee spelers van Robertson – Oliver Regue (stut) en Leighton Swarts (regtervleuel), wat ná klipharde kontak met opponente bly lê het – bloukaarte gewys, wat beteken hul beserings was van só aard dat hulle nie kon voortspeel nie.
Nog ’n speler van Robertson, die binnesenter Jovelian de Koker, is met ’n ambulans van die veld af weggeneem.
Nietemin het Robertson die eerste helfte grootliks oorheers en was veral vernietigend in die skrums. Die rustydtelling was 20-12 in die tuisspan se guns – dít ná drieë deur Lindsay Eksteen (heelagter), Abdura-Ouf Gallie (haker), Rune Lucas (linkervleuel) en ’n doelskop en strafdoel deur Colin Willemse (losskakel).
Safcol se punte in die eerste veertig minute het gekom van drieë deur die haastige Waden Nel (linkervleuel), Jeandré Lukas (buitesenter) en ’n doelskop deur Ricardo Claassen (losskakel).
Ná draaityd het die pendulum kwaai na Safcol oorgeleun. Die besoekers het Robertson vir lang tye in hul eie halfgebied vasgepen en by tye op die tuisspan se doellyn geboer.
’n Magdom hanteerfoute het Safcol egter weerhou om talle geleenthede in punte om te skep. Daarby was die tuisspan se hardnekkige verdediging ook ’n hindernis vir die besoekers.
Nogtans het Safcol in die tweede helfte met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom.
Ricardo Claassen het in die 56ste minuut Safcol se agterstand met ’n strafdoel verklein, na 20-15.
Maar net hierna het die kwiksilwer Colin Willemse die skare op hul voete gehad toe hy skitterend gebreek en Safcol se verdediging heeltemal oorhoops gehad het. Hy het los deurgehardloop en ’n pragdrie gedruk.
Juandré Joseph, wat die beseerde Leighton Swarts vervang het, het met die doelskop geslaag om die telling na 27-15 vir Robertson te neem.
Minute later het die einste Willemse die tuisspan se voorsprong met ’n netjiese skepdoel vergroot (30-15).
Dit was egter hierna dat Safcol werklik met mening begin terugbaklei het.
Hy het onmiddellik met twee pragdrieë kort ná mekaar teruggeslaan.
Eers het Cholen November (plaasvervanger-skrumskakel) gaan druk en daarna het Jeandré Lukas (buitesenter) sy tweede drie onder die pale geplant. Albei vyfpunters is deur Jurich Claassen (binnesenter) verdoel om die telling 30-29 te maak.
Die laaste paar minute was senutergend vir die tuisskare, maar Robertson het egter vasgebyt en die wa deur die drif getrek.





