Die Robertson-krieketklub gee steeds die pas aan op die punteleer van die Bolandkrieket-promosieliga en bly nommer een.
Hulle het die naweek teen die Malmesbury-krieketklub gespeel en die A- sowel as die B-span het gewen:
Robertson-A-span
Malmesbury het eerste gekolf en 165 lopies aangeteken met almal uitgeboul.
Die Robertson-krieketklub het met 166 lopies geantwoord met Boland Rocks, die provinsiale speler Ferisco Adams, oftewel Ice Man soos hy bekend staan, wat die wilgerlat behoorlik onder die Malmesbury-boulers ingelê het. Hiermee het hy weer gewys waarom hy een van die bestes kolwers in die Boland is.
Robertson se puntemakers was Ferisco Adams (82), Brendon Erasmus (26) en Warwick Abrahim (26).
Hul beste boulers was Brendan Erasmus (10 boulbeurte, 40/4) en Amre Konstabel (4.3 boulbeurte, 23/22).
Marlow van Wyk van Malmesbury was die beste bouler (7 boulbeurte, 25/2). Malmesbury se beste kolwer was Krisnan Oosthuizen (44 lopies).
Die Robertson-krieketklub se B-span het eerste gekolf en 268 lopies aangeteken, waarop Malmesbury B met slegs 178 lopies kon antwoord.
Robertson se puntemakers was Justin Geduldt (115), Elwin Matthys (40) en Jovino Adams (25).
Malmesbury se beste kolwer was Larey (52).
Robertson KK het eerskomende naweek ’n loslootjie. Die A-span speel op 2 Desember teen Coronations van Pniël op die Callie de Wet-veld in Robertson en die B-span in Pniël.




