WORCESTER – Hierdie Saterdag (13 April) lei alle paaie na Bolandpark waar twee van die dorp se spogspanne, Worcester Villagers of Villa, soos hy onder die rugbypubliek bekendstaan, teen sy bure Young Hamiltons of Hammies, soos hulle bekend staan, in ’n Grootuitdaagwedstryd in die Langeberg-afdeling van Boland Rugbyunie te staan gaan kom.

Wat hierdie uitdaging soveel meer kleur gee, is dat Hammies steeds onoorwonne is (en slegs teen Swellendam gelykop gespeel het) ná hul oorwinning van 27-20 in die Esselenpark-stadion oor Villagers Montagu, of Sesduim, soos hulle bekendstaan – dit terwyl Villa (met slegs een nederlaag ná hul 25-24 teen die einste Sesduim) op Happy Valley in Bonnievale die Blue Birds van Bonnievale seker sy grootste loesing nog sedert sy toelating tot die mededingende Grootuitdaag­kompetisie van 54-5 gegee het. Hiermee saam beklee dié twee spanne onderskeidelik die tweede en derde plekke op vanjaar se punteleer met Hammies op 22 punte terwyl Villa met 21 punte in hul nekke blaas.

Ook kan die voorlopers en verdedigende kampioenspan Robertson Town ook nie alte gerus wees nie omdat hulle op 25 punte gedurig oor die skouer moet loer omdat hulle in albei se visiere is.

Boonop het Hammies Sesduim sy eerste nederlaag van die seisoen gegee en daarmee hulle ook sommer uit die tweede posisie op die punteleer na die vierde plek geskop – dit terwyl Villa, nadat hulle so onlangs as 2022 met feitlik ’n heel nuwe span moes begin nadat omtrent 30 van hul gereelde eerste- en tweedespanspelers ander weivelde gaan soek het, nou behoorlik hul voete gevind het en gewis op ’n missie is.

Dit op sigself is meer as genoeg rede waarom toeskouers Saterdag in groot getalle na Bolandpark moet opruk om die skouspel te kom aanskou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article