Hammies se Philbrey Joseph beur vorentoe terwyl Marco Jones (Rangers) verbete probeer keer. Foto: Chantal Martinus


Young Hamiltons moes Saterdag op meer as net vernuf en geluk staatmaak om ’n hoogs gemotiveerde Rangers Robertson in die Esselenpark-stadion in Worcester te klop.

Die tuisspan was van meet af aan onder geweldige druk namate Rangers sy voorneme duidelik gemaak het. Hammies moes in die eerste halfuur erg walgooi, maar kon nie die gate toestop terwyl Rangers verwoed aangeval het nie.

Die telling was blitsig 22-0 vir Rangers nadat eers sy linker­vleuel, Tyler May, oor is en die senter Dawid Conradie verdoel en daarna ook met ’n netjiese strafskop geslaag (10-0) het.

Die alombekende flank Marco Jones het ’n speler afgestamp en is in die linker­kant­se hoekie oor, maar Conradie kon nie verdoel nie (15-0).

May is hierna weer oor ná ’n volle agterlynbeweging en ná die suksesvolle doelskop was Rangers nou 22-00 voor.

Rangers is sowat 10 minute voor rustyd gestraf en Hammies het met ’n rolmaalbeweging ná ’n aanvallende skrum tot op die doellyn gevorder, maar die skeidsregter het ’n strafdrie toegeken nadat Rangers uitmekaargespat en onkant gespeel het met Hammies sterk op pad doelgebied toe (22-7).

Hierna het Theuns du Toit (oopkantflank) ná volgehoue druk deur Hammies gedruk (telling 22-12 nadat die senter Ussiel Langeveldt nie kon verdoel nie; ook rustydtelling).

Ná rustyd het Rangers twee keer kort ná mekaar gedruk om met 34-12 voor te loop nadat Conradie slegs een drie verdoel het. Hammies het ná ’n paar verstellings en plaasvervangers sy regrukpoging begin en met meer oorgawe gespeel.

Die plaasvervanger-agtsteman Philbrey Joseph het ’n reuseverskil gemaak en oorgebars met Langeveldt wat verdoel (telling 34-19). Die senter Raldon Rooi het ná volgehoue druk onder die pale gedruk om Hammies met die doelskop binne trefafstand te bring (34-26).

Die linkervleuel, Ghanton Ceasar, het duisende Hammies-ondersteuners op hul voete gebring toe hy in die linkerhoek oor is en Langeveldt verdoel om Hammies slegs met een punt (34-33) agter te laat.

Rangers het toe ’n omstrede strafskop gekry en met ses minute speeltyd oor het Conradie seker gemaak van ’n 37-33-voorsprong vir sy span.

Rangers het egter die inskop verloor, wat Hammies hewig op die aanval geplaas het. Die bal is deur die voorspelers vorentoe gedryf tot diep binne Rangers se kwartgebied. ’n Lang aangee van Rooi na Ceaser het die wendrie deur Ceaser langs die linkerregoppaal bewerkstellig en met die suksesvolle doelskop het Hammies die wedstryd 40-37 gewen.

Hammies B het ’n 50-12- wegholoorwinning behaal terwyl die C-span gesukkel het om Rangers C met 13-5 te klop.

Hammies reis Saterdag na Montagu om Villagers Montagu te pak. Busse vertrek om 11:00 van Esselen Tavern af. Buspryse sal op die klub se Facebookblad aangekondig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article