Dié o.14-rieldansers het tot die eineronde van die ATKV-rieldans-kompetisie deurgedring.Foto: Enrico Claassen


Rieldansers in die o.14-afdeling van Roodewal in Worcester het die dorp trots gemaak toe hulle verlede week Saterdag (7 Oktober) tydens die ATKV se rieldans-semi-finaal in Vredendal deurgedring het tot die finale rondte wat op 9 Desember in Clanwilliam gaan plaasvind.

Dié talentvolle jong dansers – wat as die Vallei Kringtrappers bekendstaan – het meegeding teen spanne van onder meer Betjiesfontein, Ratelgat in Vredendal, die Paarl, Barrydale en die Koo.

Die Vallei Kringtrappers het die beoordelaarspaneel laat regop sit en beïndruk met hul rieldans “Hier in die Vallei… in die Vallei sal jy ons lekker druiwe kry”.

Nicolene Damons, die uitvoerende hoof van die Kibbutz El-Shammah – ’n gemeenskaps-ontwikkelingsorganisasie in Roodewal, sê: “Die kinders vertel deur middel van die dans die storie van hul kontrei . . . die wingerde en hoe om in die wingerd te werk.

“Ons het die wingerde gekies en deur middel van die dans gedemonstreer hoe ons wyn maak in ons kontrei, dat wyn ’n belangrike uitvoerproduk vir ons in Suid-Afrika is en dat ons hier in die Vallei ook baie tot daardie uitvoerproduk bydra.”

’n Trotse Damons sê sy het die danspassies self vir die jong dansers geleer, en volgens haar het hulle hulself uitstekend van hul taak gekwyt.

Sy sê hoewel die Vallei Kroontrappers (o.20) nie tot die eindronde deurgedring het nie, het hulle – veral die ouer garde – met hul volstruisdans-danspassies op hul voete gehad, en sommige van hulle selfs in trane.

“Ons het baie dieper gaan krap in die passies wat ons voorouers gedoen het en die stories wat hulle daardeur vertel het.

“Ek sê vir hulle as ’n 70-jarige tannie met trane in haar oë vir julle sê die danspassies was baie mooi, beteken dit julle het goeie herinneringe van haar oupa en ouma teruggebring.”

Maria Ruiters (59) van Brandwacht in Worcester het die volstruisdans vir die o.20’s geleer.

Damons gaan verder: “Hoewel die kompetisie in die 0.20-afdeling baie straf was, leer ons nietemin baie van ons kultuur en kultuurdans by die ander spanne.

“Ek is baie trots op ons kinders en die manier waarop hulle hulself van hul taak gekwyt het. Dis belangrik dat die kinders aan hul kultuur blootgestel word.

“Ons bou deur die rieldans ’n geslag wat in die toekoms beter leiding sal neem en beter burgers sal wees en bydraes tot die ontwikkeling van ons dorp en land sal kan lewer.”

Benjamin Bock, die ATKV se rieldans-projek-organiseerder, sê dit is die eerste keer dat die o.14’s aan dié betrokke kompetisie deelneem.

Volgens hom het dié jong dansers die ander deelnemende groepe behoorlik laat regop sit.

“Van die gesoute dansers het skoon gesê ‘hulle (0.14’s) dans dan nou beter as ons groepe’.”

Bock sê die o.14’s was gewis goed genoeg om deel van die kompetisie te kon wees. “Hulle het gewis hul staal hier kom wys.”

Volgens hom het die o.20’s ook goed gevaar. Hy sê hulle moet egter net hul basiese tegnieke verfyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article