Pieter Conradie met die grootste pampoen in die Suidelike Halfrond. Foto:


’n Boer van die Nuyvallei is in ekstase oor sy pampoen wat die grootse in die suidelike halfrond is.

Pieter Conradie (33) het vier jaar gelede pampoene begin plant.

“My kamermaat in Elsenburg het destyds vir my gesê ek moet pampoene plant, maar ek het nooit geluister nie.”

Hy het uiteindelik wel daarmee begin en homself en sy eerste groot pampoen by die Giant Pumpkin Festival, wat jaarliks in Heidelberg plaasvind, ingeskryf.

“In my eerste jaar is ek gediskwalifiseer. In my tweede jaar ook. In my derde jaar het ek ’n mooi pampoen gehad, maar dit het gebars. Dit was oor daai baie reën wat ons gehad het.”

Hierdie jaar het hy ’n geskatte gewig gehad, maar het nie geweet presies hoeveel die pampoen weeg nie. Sy pampoen het die skaal op 967,5 kg laat kreun.

Volgens die fees se organiseerders is hierdie ’n suidelike-halfrond-rekord.

“Ons het ’n formule waarvolgens ons die gewig uitwerk, so ek het ’n baie goeie idee gehad hoeveel dit weeg, maar tog was ek verras toe dit op die skaal gesit is.”

Hy is ontsettend trots op homself.

“Ja, jissie, dis lekker om te kan sê ek het dit reggekry om so ’n groot pampoen te kweek.”

Om so ’n bielie van ’n pampoen te kweek, verg baie moeite, toewyding en harde werk.

“Dis verskriklik baie harde werk. Dit begin selfs al voordat jy die pit plant. Jy moet die pit eers reg voorberei en dit behels ’n hele paar stappe.”

Verder verduidelik Conradie die werk begin eintlik regtig drie weke nadat die pit geplant is.

“Dan begin die plantjie te groei. En hy groei vinnig. Sodra die pampoen begin groei, moet baie mooi na die pampoen omgesien word. ’n Mens moet half die weer rondom die pampoen kan beheer.

“Ek het nette rondom die pampoen gespan sodat die hitte op en weg van die pampoen kan beweeg. Toe ons aan die begin van die jaar daai baie hoë temperature gehad het, het ek ’n paar benoude oomblikke beleef. Ons gooi ook sand rondom die pampoen sodat dit die vog kan weghou.”

Hy skryf ook die pampoen se grootte toe aan die hulp wat hy van John Booysen op die plaas gekry het.

“John het my baie mooi gehelp. Hy self het ook ingeskryf vir die kompetisie en die tweede plek behaal.”

Conradie sien daarna uit om middel Oktober sy saadjies vir die volgende pampoenfees te plant en wil graag weer so ’n reus produseer.

“Dis regtig merkwaardig hoe vinnig hierdie plantjies groei. Dit bied ook baie satisfaksie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article