’n Reuse gemeenskap-soektog na die vermiste Michayl Sederick Plaatjies (1) van Agterkliphoogte naby Robertson word beplan vir Maandag 25 September.
“Ons kan nie vanselfsprekend net aanvaar hy is weg en ons gaan elke dag aan met ons lewens asof niks gebeur het nie. Ons is binne in Human Trafficking Season en die wêreld is boos. Wat het geword van ons slagspreuk ‘My kind is joune, en joune is myne’? Kom ons kyk na mekaar se kinders,” skryf Heinrich Sauls in a brief aan die media.
Die peuter het op Sondag 10 September spoorloos verdwyn, en die polisie en alle ander rolspelers se soektog duur steeds voort. Sauls vra dat alle gemeenskapslede Maandag saam na die seuntjie sal soek.
“Die soektog nooi en daag alle regeringsamptenare, inwoners van Roberston, Worcester, Ashton, Bonnievale, Montagu en De Doorns en besighede en maatskappye uit, om deel te wees van die staptog.”
Die soektog sal om 09:00 by die plaas De Fonteinplaas by Agterkliphoogte begin. Sauls versoek ook dat almal wat deel wil vorm van die soektog ’n wit t-hemp moet aantrek.
“Ons almal het ’n sosiale verantwoordelikheid teenoor elke kind in Suid-Afrika. Kom ons neem self eienaarskap en versterk die hande van die polisie. Geestelike leiers word gevra om ketting gebede te doen gedurende die soektog aan die gang is, vir nuwe leidrade. Kom ons gee morele ondersteuning aan die familie.”
Vir meer inligting en hoe om betrokke te raak kontak Heinrich Sauls op WhatsApp by 066 370 5131 of per epos by heinrich.sauls@gmail.com.


