’n Voorbeeld van hoe ’n BESS-stelsel lyk.


’n Reusagtige battery-aanleg van R1,2 miljard gaan deur Eskom in Worcester opgerig word, wat die Breedevallei gaan help om minder beurtkrag te hê.

Bouwerk hieraan gaan oor ’n maand begin. Dit is die eerste projek van sy soort in Suid-Afrika.

Die BVM is een van net 13 plekke in die land – waarvan ses in die Wes-Kaap – wat vir dié projek geïdentifiseer is.

Die geld hiervoor word deels deur die Wêreldbank voorsien en die algehele koste landwyd beloop R11 miljard, waarvan die eerste fase nagenoeg R5 miljard is.

Eskom sê die eerste fase van die Worcester-projek behoort teen Junie 2023 voltooi te wees.

Plaaslike ondernemings gaan kans kry om vir sekere aspekte van die projek te tender, maar die batterye self gaan deur ’n buitelandse maatskappy gebou word.

Volgens Eskom gaan hierdie batterye sy koolstofvoetafdruk aansienlik verklein. Die projek gaan ook die uitdagings wat Eskom tans met beurtkrag het, aansienlik verminder.

Die stelsel, wat bekend staan as die battery-energie-bergingstelsel (BESS), sal daagliks vir vier uur en 250 dae van die jaar gebruik kan word. Dit sal gedurende nie-spitstye of wanneer die netwerktoestande dit toelaat, laai.

Eskom sê die besluit om die projek in twee fases te implementeer, is geneem sodat hy die risiko van die vervaardiging en oprigting beter kan bestuur. Fase 1 is gekoppel aan die Wêreldbank se uitbetaling van die geld.

Volgens Eskom is die veelledige doel van die projek om Eskom se koolsuurgas-voetspoor te verklein, die gebruik van hernubare energie te bevorder, beurtkrag te verminder en oortollige elektrisiteit in nie-spitstyd te berg.

Altesaam 70% van die koste gaan vir die aankoop van die batterye en die sonpanele gebruik word en 30% van die koste gaan vir die konstruksie van die stelsel.

Dr. Julian Kritzinger, die BVM se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling, het in ’n boodskap gesê kleiner sakeondernemings sal in sekere fases van die projek geleenthede kry om ook te tender. Plaaslike arbeid sal in sekere aspekte gebruik word om die batterystelsel te bou.

Volgens Kritzinger gaan die battery-aanleg by die Hexriviersubstasie gebou word, op die oop gedeelte aan die agterkant van HexTex. Toegang na daardie gebied is met Louis Langestraat, verby Rainbow Chickens se fabriekswinkel en Peninsula Beverages (die nuwe Coca Cola-fabriek).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article