Op 19 April, presies 100 jaar gelede, het die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sy eerste banknote uitgereik.

Die banknote is uitgereik 10 maande nadat die SARB op 30 Junie 1921 gestig is.

Voor dit het handelsbanke self note uitgereik. Van 19 April 1922 is die SARB die enigste gesag wat die Suid-Afrikaanse geldeenheid mag vervaardig, uitreik en vernietig. Dit is so om beskikbaarheid en integriteit van die Suid-Afrikaanse geldeenheid te verseker.

Die SARB sê hy het aansienlik in die geldeenheid se ontwerp- en veiligheidskenmerke belê sodat die eenheid moeilik vervals kan word. Die veiligheidskenmerke wat in Suid-Afrika se geldeenheid ingebed is, verteenwoordig die mees innoverende vooruitgang in globale ontwerp en tegnologie, sê die bank.

In 1961 het die rand die Suid-Afrikaanse pond vervang. Die rand kry sy naam van die Witwatersrand (witwaterrif), die rant waar die meeste van Suid-Afrika se goudneerslae in Johannesburg gevind is.

Van tyd tot tyd reik die SARB banknote en munte uit om sleutelgebeure of mylpale in die land te herdenk. In 2018 was die SARB die eerste sentrale bank wat gedenkbanknote op al vyf denominasies uitgereik het. Hierdie gedenkbanknote en munte word in omloop geplaas vir alledaagse gebruik en behou hul sigwaarde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article