Juenieta Everson van Sandy’s Eden is verheug en opgewonde om die ou-reptielpark by Kleinplasie te omskep in ’n volwaardige diere-organisasie.


Dertien jaar nadat die bekende reptielpark by Kleinplasie sy deure moes sluit, het ’n bekende diere-organisasie van Worcester besluit om hierdie trekpleister te heropen.

Die reptielpark was ’n groot gunsteling, veral onder jongelinge, en het honderde besoekers maandeliks daar verwelkom.

In 2010 moes hierdie besienswaardigheid met onmiddellike effek sy deure sluit en sedertdien is geen poging aangewend om dit weer op die been te bring nie.

Dertien jaar later kan Worcesteriete weer daarna uitsien om binnekort alles wat kriewel en krioel te besoek en in die proses meer oor dié diere te leer.

“Ons is kinderlik opgewonde,” vertel Juenieta Everson aan Standard.

Everson bestuur en bedryf die Sandy’s Eden dierewelsynorganisasie in Worcester en is bekend vir haar ywer en toewyding aan diere se welstand in die streek. Sy dien nie net die Breedevallei nie, maar werk ook nou saam met owerhede in die Witzenberg.

Sy en die span by Sandy’s Eden het tydens ’n terreinbesoek op Vrydag 5 Mei al hul planne met Standard gedeel.

“Nie net gaan die ou reptielpark weer nuwe lewe kry en ná meer as ’n dekade weer oop wees vir die publiek nie, maar Sandy’s Eden gaan ook hierheen skuif. Ons gaan nou soveel ruimte tot ons beskikking hê om na die welstand van diere om te sien, maar ook die gemeenskap te betrek by wat ons doen,” sê Everson.

Hierdie ruimte gaan toegerus wees met ’n reptielpark, ’n dierekliniek, ’n isolasiesentrum vir optelhonde, hondehokke, ’n gebied waar katte vrylik kan beweeg, ’n speelgebied waar die publiek met diere kan speel en ’n inligtingsentrum waar bewusmakingsessies aangebied kan word.

Die eienaar van Kleinplasie, Orton King, het ook sy opwinding met Standard gedeel.

“Ons sien baie uit na hierdie projek en glo dit sal ook nog meer voete lok na Kleinplasie. Dit, gekoppel met wat ons reeds bied, kan net dui op ’n suksesverhaal. Dit spreek ’n groot nood in ons gemeenskap aan en sluit veral aan by ons mandaat om ons gemeenskappe op te hef.”

Hy het ook verduidelik dat Sandy’s Eden nou ’n vierjaarkontrak het om die geboue teen geen koste te kan huur en dat dit op dieselfde voorwaardes hernu sal word as die tydperk verstryk het.

“Ons huidige ruimte in Worcester is baie klein, maar ons het al baie vermag. Ons sien uit na wat ons nou gaan regkry sodra ons op die been is,” vertel Everson.

Die geboue is tans in ’n haglike toestand en opknappingswerk word nou van stapel gestuur. Hulle beoog om in Augustus vanjaar hul deure oop te maak.

“Daar is baie wat gedoen moet word en ons gaan dit reg doen. Ons het wonderlike ondersteuners en wil ook soveel besighede moontlik by die projek betrek.

“Ons deure gaan oopstaan vir die publiek en ons weet hierdie sal die krisis in die gebied help oplos.”

Everson en haar span gaan ook hande vat met verskeie provinsiale en nasionale organisasies wat gaan omsien na die diere se welstand.

“Ons planne is eindeloos. Daar is baie wat gedoen moet word, maar ons is gereed. Ek is dankbaar vir mense soos Annelize Orton, Clayton de Villiers, dr. Christo van Dyk en sy vrou, Emma, wat ons bystaan. Met hul hulp en die gemeenskap se hulp gaan ons ’n sukses maak hiervan,” voeg Everson by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article