André Roux (56), ’n legende onder die Worcesteriete en in die wyer Langeberg area, is op 20 Desember ter ruste gelê na ’n kort stryd met kanker.
André, ’n oud-leerder van Montana Hoërskool, was alombekend in die dorp vir sy sakevernuf en goeie kliëntediens.
Hy het destyds Pieter Roux Motors by sy pa, Pieter, oorgeneem in 1998 en in 2002 het hy die tweedehandse motor besigheid toegmaak en in ’n Renault-tak omskep. .
As bewys van sy uitstekende sakebedrywighede is André ses keer as Renault kleinhandelaar van die jaar aangewys, die jongste hiervan in 2019.
“Hy het onder begin werk as motorwerktuigkundige en het homself deur die jare opgewerk tot heel bo, sonder enige besigheidsopleiding,” vertel André se dogter, Ancel le Roux.
Verder vertel sy dat André ’n legende in Worcester was, nie net omdat hy twee suksesvolle besighede bestuur het nie, maar ook vir sy “goedhartigheid” en “goeie kliënte diens”.
Hy het sy kliënte se voertuie met deernis gediens en as ’n gevolg ’n goeie naam as besigheidseienaar in die Langeberg area ontwikkel.
André was selfs só bekend dat motoreienaars vanaf Gauteng die langpad aangedurf het om sodoende ’n motor by hiérdie bekende en eerlike sakeman te koop.
Ancel verduidelik ook dat hierdie uitmuntende diens beteken het dat haar pa goeie kontakte in en om die dorp opgebou het, en ’n netwerk geskep het waar baie Langeberg inwoners met respek en trots oor die Roux-familie gepraat het.
Buiten die feit dat André alombekend was vir sy omgee-hart, was hy ook ’n kranige poetsbakker wat gereeld ook in die werkplek werknemers op hul tone gehou het, sê Ancel.
André word oorleef deur sy vrou, Ronel, en hul twee dogters, Marnel Kriel en Ancel.




