Pieter en Elzabé Reichert (albei 66).

Credit: SYSTEM

Pieter en Elzabé Reichert (albei 66) woon al sedert die jare sestig in Worcester en het ’n lang pad saam met beide die De La Bat-skool en Worcester Gimnasium gestap.

Ná ’n lang en opwindende avontuur in dié Boland-dorp het die egpaar hul werkskoene uitgeskop en maak reg vir hul aftrede langs die see by Agulhas.

Pieter woon reeds van 1967 in Worcester, waar hy by die destydse Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy-seunskool skoolgegaan het.

Elzabé het ’n paar jaar later, in 1978, in die dorp aangekom vir haar praktiese jaar in verpleegkunde en in 1979 vir Pieter ontmoet. In 1981 het hulle die knoop deurgehak.

Beide Pieter en Elzabé het in 1983 aangesluit by die De La Bat-skool; Pieter as ’n ingenieursgrafika en -ontwerponderwyser en Elzabé as ’n verpleegkundige.

Tydens Pieter se 22 jaar by dié skool het hy baie vermag, onder meer om ’n orkes vir dowe leerders van die De La Bat-skool tot stand te bring wat in 1985 op die televisie verskyn het.

Hy het ook baanbrekerswerk verrig deur Suid-Afrikaanse gebaretaal in die skool se ateljee op te neem, met die hulp van oud-leerders en dowe personeel by die skool wat gebaretaal voor die kamera gepraat het.

Pieter se werk het ook die aandag van vele Suid-Afrikaners getrek toe Pick n Pay in 1958 die eerste advertensie bekendgestel het wat gebruik gemaak het van gebaretaal wat hy opgeneem het.

Hierdie advertensie het dan ook die totstandkoming verseker van gebaretaal op televisieprogramme in Suid-Afrika. Pieter het selfs saam met die bekende radio-omroeper Iris Bester gewerk aan Suid-Afrika se eerste dowe televisieprogramme, genaamd Luister en Hoor en Signature, wat op die destydse SAUK en toe later SABC uitgesaai is.

Terwyl Pieter besig was in De La Bat-skool se ateljee en ingenieursgrafika en -ontwerp-klaskamer, het sy vou, Elzabé, toegewyd vir 41 jaar by die skool gewerk, van waar sy aan die einde van Julie haar pos as verpleegkundige vir Agulhas sal verruil.

Van 2005 tot 2021 het Pieter aangesluit by Worcester Gimnasium waar hy wiskunde en wiskundegeletterdheid aangebied het en tot die eerste meisies-toutrek-ligaspan bygedra het.

Ná meer as 50 jaar op dié Bolandse dorp sê Pieter hulle sien uit na hul aftrede by die see, maar sal die Worcesteriete baie mis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article