Twee renjaers op pad na die eindstreep in die Wynland-ovaalbaankampioenskap.Foto: Rudi van Dyk


Die afgelope naweek (24 en 25 Maart) het die alombekende Wynland-ovaalbaankampioenskap op die Mega-ovaalbaan op Kleinplasie plaasgevind.

Altesaam 124 deelnemers van die Boland, Weskus, die Suid-Westelike-distrikte (soos George en Oudtshoorn), en die Vrystaat het die afgelope Vrydag die byeenkoms geopen, waar daar toe weens die reën wat uitgesak het, besluit is om Vrydag drie uitdunne te ry, met een uitdun die Saterdag asook ’n eindronde die Saterdagaand.

Die wedrenne was van uitstaande gehalte en die deelnemers het van die begin hul staal gewys.

Toeskouers is ook beloon met hope aksie toe ’n handjievol deelnemers ’n paar noue ontkomings gehad het, met motors wat gerol, teen mekaar of die veiligheidsmuur gebots het.

Kosie Weyers, ’n veelvoudige Suid-Afrikaanse kampioen, het net Saterdag deelgeneem, maar het die skare op hul voete gehad deur in die eindronde van die Heavy Metal-klas in die 14de plek weg te spring en goed te vaar op ’n nat baan.

Allan Booysen en Johan Cloete van Bloemfontein het die V8-klas gedomineer nadat Manfred Oehl, die plaaslike kampioen, vroeg enjinprobleme ervaar het en hom aan die wedren moes onttrek.

Oehl was later in die byeenkoms egter terug met ’n ander motor, maar die puntegaping tussen hom en Booysen was reeds te groot.

Burger van der Westhuizen van Oudtshoorn het in twee klasse deelgeneem en sommer vroeg reeds gewys dat hy moeilik geklop gaan word in die 1660-eindronde toe hy sy bestuursvernuf behoorlik gewys het.

In die 2.1-gemodifiseerde klas was hy net so kompeterend en het met ’n nuwe renmotor derde in die kampioenskap geëindig.

Die organiseerders bedank Tonys Motoronderdele vir sy borgskap van die byeenkoms, asook al die renjaers en publiek wat die byeenkoms bygewoon het. Die uitslae ná twee dae van taai wedrenne is:. In die Mega Karts-afdeling het Jean Robberts eerste plek behaal, en in die juniorklas Piet Pieter le Grange van die Weskus.. In die Stockrods-afdeling het Jandre Visagie weggestap as wenner, en in die 1660-afdeling Burger van der Westhuizen.. Pierre Kotze het die Modifieds-afdeling gewen, en Pieter Swanepoel die Hotrods-afdeling.. Die renjaer wat die heavy metal-klas gewen het was Nian du Toit, met Guintin Muller wat die Lexus V8-klas gewen het.. In die V8 AMS-klas was Allan Booysen die kampioen en vir die Midgets-afdeling Wessel Rabe. . In die W66 JJ Whitehorn B-klas was Francois Burger die wenner, en in die V8 Sprintcars-afdeling, Kenny Gouws.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article