Goeie vordering word met die opknappings gemaak wat in September 2024 by De Doorns-kliniek begin het.
Twee van die kliniek se vleuels word uitgebrei om voorsiening te maak vir ses bykomende konsultasiekamers. Die apteekgedeelte word ook uitgebrei om ’n meer omvattende apteekdiens te kan lewer. Ander veranderings sluit in ’n groter wagarea, en stoorkamers word aangebring.
Verskillende inisiatiewe word ingespan om te sorg dat gesondheidsdienste kan voortgaan soos altyd en die gemeenskap moet kennis van die tydelike reëlings neem.
Sommige dienste sal tydelik vanuit mobiele eenhede op die kliniek se perseel gelewer word. De Doorns-kliniek se fisioterapie-pasiënte sal soos nodig verwys word na die Worcester-gemeenskapsdagsentrum (daghospitaal) om behandeling daar te ontvang. De Doorns-kliniek se arbeidsterapie- en spraakterapie-dienste stop tydelik en sal hervat word sodra ’n konsultasiekamer by die kliniek beskikbaar is.
“Ons wil die kliniek se opslaangebou skuif na ’n ander deel van die perseel. Dit beteken egter dat water en elektrisiteit weer aangelê moet word. Om hierdie skuif te maak, beteken ongelukkig dat van die dienste geraak word. Om almal se veiligheid te verseker word sekere dienste tydelik afgeskaal,” sê Angelique Theron, primêre gesondheidsorgbestuurder van die Breedevallei-subdistrik vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand.
Na beraming sal die opknappings eers in 2026 voltooi word. Ná die werk sal daar ’n beter vloei van pasiënte wees wat deur die bestaande personeel bedien word. Sowat 5 000 mense maak elke maand op De Doorns-kliniek se dienste staat.
“Dankie vir almal se geduld en samewerking en dankie aan die personeel wat planne maak sodat ons steeds ons pasiënte so goed as moontlik kan help.”
- Praat met jou gesondheidswerker by die kliniek of skakel die operasionele bestuurder by 023 814 2200 vir meer inligting.





