Die reddingswerker Lehandra Springveldt is genooi om aan ’n internasionale reddingskompe­tisie deel te neem.Foto: Tamsyn Jantjies


’n Plaaslike reddingswerker is gekies om aan ’n internasionale reddingskompetisie deel te neem.

Lehandra Springveldt het in 2016 as reddingswerker en in 2019 as paramedikus gekwalifiseer.

“Ná skool het ek nie geweet wat ek wou doen nie. Ek het baie ander werk gedoen. Maar ek onthou ek het al jare lank gesê wanneer ’n ambulans verby my gery het, dís waar ek wil wees.”

Later het sy vrywillige werk by die ambulansdienste gaan doen voor sy haarself gekwalifiseer het.

Springveldt is baie opgewonde om aan die Portugal World Rescue and Extrication Challenge deel te neem wat van 4 tot 9 November plaasvind.

Springveldt, tesame met haar spanmaats van oor die Wes-Kaap heen, het in Junie aan dieselfde soort kompetisie op provinsiale vlak deelgeneem.

“Die kompetisie het hier in Worcester plaasgevind. Elke basis in die provinsie het ’n span gestuur om deel te neem. Ons span, Wynland, het gewen.

“Daar het hulle ons gekies om aan die internasionale kompetisie te gaan deelneem.

“Ek is regtigwaar baie opgewonde hieroor, die span het regtig baie hard gewerk.”

Hulle is nou hard besig om voor te berei vir die kompetisie in Portugal. Die span oefen elke week saam in Mosselbaai of Kaapstad sodat hulle as ’n span gewoond kan raak aan mekaar en om beter te kan saamwerk.

Die groep het reeds hul inskrywingsfooi van R40 000 betaal, asook hul verblyf, wat R24 000 kos. Daar is sewe lede in die span en hulle moet nog hul vliegkaartjies betaal en kort dus nog donasies om alles vroegtydig te vereffen.

“Vir die sewe van ons werk dit omtrent R120 000 uit, dit wil sê dis om en by R19 000 per persoon. So nou werk ons hard om die geld in te samel. Ons het selfs ook ’n lootjie met lekker pryse soos wegbreeknaweke in kusdorpe.”

Stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 960 6763 vir meer inligting oor hoe om vir Springveldt te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article