Is Suid-Afrika die “moordland” van die wêreld? As jy net kyk na die sinnelose moorde wat oor die Paasnaweek in en om Worcester gepleeg is, is dit nie moeilik om so te dink nie.
Volgens News24 het moorde oor die laaste 11 jaar in Suid-Afrika elke jaar toegeneem, behalwe vir die covidjaar (2020-’21). Die ergste toename was juis van 2020-’21 tot 2021-’22 toe moorde met 26% toegeneem het, wat beteken 5 209 meer mense as die vorige jaar is vermoor (25 181 teenoor 19 972).
Vier moorde is die Paasnaweek in en om Worcester gepleeg – en dis net dié wat aangemeld is. ’n Man is vermoor vir iets so netelig soos ’n sigaretaansteker; nog een omdat hy stry gekry het met ’n familielid.
Wat moet aangaan in ’n land dat menselewens niks werd is nie? Is die land gebroke? Is die mense gebroke? Is daar dan geen meer hoop nie?
Dit kan mos tog nie wees dat een mens so min voel vir ’n ander se lewe nie?
Waar lê die oorsaak? Waar leer mense dat ’n ander se lewe niks meer werd as ’n sigaretaansteker is nie? Waar leer een mens dis aanvaarbaar om ’n ander met ’n skêr te vermoor omdat julle oor iets verskil?
Dit kan nie en mag nie aanvaarbaar wees dat iemand se lewe minder werd is as ’n lighter nie.


