Die Young Shooters-sokkerklub van Rawsonville is ’n plaaslike sportinisiatief waaraan verskeie plaasinwoners van jonk tot oud behoort.
Die sokkerklub fokus veral daarop om die jonger garde bloot te stel aan sport en “hulle uit die verkeerde goed te hou”, volgens Jim van Heerden, die bemarker van Young Shooters.
Die sokkerklub bestaan al ’n geruime tyd met inwoners van nabygeleë plase soos Hou Moed, Florence en Tierstel wat deel is van die klub, asook leerders van die Laerskool Lorraine – ’n plaasskool wat kinders van verskeie dorpe in die Breedevallei ’n kans op onderwys bied.
“Die sokkerklub het deur die jare verskeie ander name gehad, maar is offisieel in 2018 as die Young Shooters gestig,” vertel Jim.
Vorige jare is dié sokkerklub ook eerder as ’n sosiale klub beskou, en is eers onlangs by die Rodsa-sokkerunie geregistreer. Verskeie Young Shooters-spelers is reeds gekies om deel te neem in ’n Rodsa-span om in ligawedstryde te speel.
Op die oomblik oefen die Young Shooters twee keer per week op ’n veld op die plaas Tierstel, en bereik hul doel om soveel plaaslike jeug moontlik by dié inisiatief te betrek, volgens Jim.
Josef Faro, afrigter van die Young Shooters-sokkerklub, voeg ook by dat die Rodsa-unie as wenners van die 2021 plaaslike sokkerliga aangekondig is – ’n groot eer vir diegene van Young Shooters wat vir hierdie span speel.
Vanjaar se ligawedstryde is steeds aan die gang.
Die Young Shooters maak slegs staat op donasies van plase in die omgewing, sowel as van Wyk 19 se raadslid.
Megann Goedeman van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit verduidelik dat die munisipaliteit jaarliks geld toeken om die sokkerklub te ondersteun deur sportklere te skenk.
Plase in die omgewing, soos Tierstel, dra ook by deur die sokkerveld in stand te hou.
“Ek is ’n gebore Rawsonviller, en wil graag terugploeg in die gemeenskap, daarom het ek besluit om deel te raak van die sokkerklub,” sê Megann.
Sy vertel ook dat sy saam met ’n paar lede van Young Shooters se komitee, soos Jim, skoolgegaan het, en dit haar daarom aanspoor om haar gewese klasmaats te ondersteun. Die werk van die komitee is ook vrywillig, sê Jim.




