Die lewe van ’n bekende van Rawsonville is Maandagoggend in ’n ongeluk kortgeknip.
Die ongeluk het omstreeks 06:40 op die ou N1 by Rawsonville gebeur. ’n Motor, ’n bakkie en ’n vragmotor was in die ongeluk betrokke wat by die Goudini-kruising plaasgevind het. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik hoe die ongeluk gebeur het.
Nog drie mense is in die ongeluk beseer, van wie twee ernstig.
Die oorledene, Francois Vermeulen (51), is op die toneel dood verklaar.
Alta Vermeulen beskryf haar man as ’n nederige mens.
“Hy kon gemaklik met enigiemand gesels. Nederig, met ’n sagte en geduldige gees. Altyd gereed om raad te gee in sy professie, of om ’n hand te gee om te help.”
Sy noem ook dat hy haar en hul kinders se alles was en dat sy na die liefde wat hy vir hulle gehad het gaan verlang.
“Ek gaan sy liefde vir my en ons kinders en hoe hy ons veilig laat voel het, mis, net om te weet hy is daar. Dit was vir hom nooit te veel om vir ons iets te doen nie, hy sou uit sy pad gaan om ons te help en te ondersteun. Sy kalmte en rustigheid gaan ook gemis word. Sy lekker lag, terg en sjokolade-bederfies. Soggens se koppie koffie en saam lees uit die Woord en gebed voor ons uit die huis gaan vir skool en werk. Daar is so baie wat ons van hom gaan mis, want hy was ons alles.”
Vermeulen sou op 1 September sy 52ste verjaardag vier. Hy word oorleef deur sy vrou, Alta, hul 18-jarige dogter, Anelda, en hul 16-jarige seun, Mynhardt.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.
. In ’n afsonderlike ongeluk wat Saterdagaand omstreeks 19:00 naby die Du Toitskloof Lodge gebeur het, is 14 mense beseer.
Drie voertuie was in die ongeluk betrokke. Die motors het almal in die rigting van Worcester gery toe die ongeluk gebeur het.
“Die bestuurder van ’n Ford-bakkie van De Doorns het na bewering beheer oor sy voertuig verloor. Die bestuurder van ’n silwer Volkswagen het toe probeer rem om nie in die voertuig vas te ry nie, maar die derde voertuig het egter in die Volkswagen vasgery, wat dit veroorsaak het om in die bakkie vas te ry. Die bestuurder van die Ford is deur nooddienste op die toneel behandel en die bestuurders van die ander twee voertuie het geen beserings opgedoen nie,” sê kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie onder wie se jurisdiksie die betrokke deel van die N1 val.





