Rawsonville United het Saterdag ’n indrukwekkende vertoning gelewer deur Alberts te klop in ’n wedstryd wat van begin tot einde vol aksie was. Hulle het die wedstryd blitsvinnig begin en binne die eerste tien minute reeds twee keer agter Alberts se doellyn gekuier. Die tuisspan het hul momentum behou en nog twee keer gaan kuier, wat ’n stewige voorsprong van 25-0 teen rustyd verseker het.
Alberts het egter met ’n hernieude gees uit die kleedkamers gekom en gou twee drieë aangeteken, wat die telling na 25-14 geskuif het. Die wedstryd het in hierdie stadium in ’n taai stryd ontaard, met Alberts wat alles in die stryd gewerp het om die agterstand in te haal. Maar Rawsonville het koelkop gebly, en deur ’n skitterende skop van Mouries kon sy linkervleuel ’n beslissende drie druk.
Alberts het daarna verwoed aangeval, met Gabriel en BJ wat as voorspelers deur Rawsonville se verdedigingslyn gebreek het, maar kon nie hul aanvalle suksesvol afrond nie. Die wedstryd was ‘n klassieke voorbeeld van ‘n spel met twee helftes – die eerste oorheers deur Rawsonville en die tweede deur Alberts.
In ander wedstryde van die dag het Rawsonville B ‘n oorwinning van 40-19 oor Alberts behaal, terwyl Alberts C ‘n noue 28-14 sege oor Rawsonville gevier het.
Alberts is Saterdag weer in aksie wanneer hulle Ashton United op Essenlenpark pak. Dit beloof om ‘n kragmeting van formaat te wees, met albei spanne wat hulle vriendskaplike verpligting op hoogte punt sal wil afsluit.





