Taylor May, die linkervleuel van Rangers Robertson, probeer Montagu-klub se agsteman systap in dié twee spanne se Grootuitdaagbeker-kragmeting. Agter hom is die skeidsregter, Epraiham Booysen. Die wedstryd is op die Van Zylstraat-sportterrein beslis. Rangers het die aksiebelaaide wedstryd 38-29 gewen. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON. – `n Fisieke stryd het verlede Saterdag (9 Maart) op die Van Zylstraat- sportgronde gewoed toe Rangers Robertson en Montagu-klub in ’n Grootuitdaagbeker-kragmeting slaags was.

Rangers het dié klipharde ligawedstryd, wat met verstommende passie en intensiteit gespeel is, uiteindelik met 38-29 gewen. Dit was ’n drukpotstryd waartydens die humeure twee keer oorgekook het.

Sommer met die eerste skrum van die wedstryd het Montagu dit duidelik gemaak hy was nie daar om piekniek te hou nie. Hy het die tuisspan in die grond in geskrum. Van toe af was Rangers in dié faset van die spel konstant onder druk.

Montagu het weliswaar die voortou geneem toe sy linkervleuel, Devandré Adendorf, vir ’n onverdoelde drie langs die hoekvlag oorgeduik het.

Rangers het egter dadelik hierop reageer met ’n verwoede aanval op die besoekers se doellyn en Montagu se skrumskakel, Richard Moses, het die doellyn oorgesteek vir ’n verdoelde drie en die telling 7-5 vir die tuisspan.

Kort hierna het die humeure ná een van talle fisieke botsings tussen die spelers opgevlam. Van die spelers het mekaar gegryp, terwyl ander met die spel voortgegaan het.

Die skeidsregter, Epraiham Booysen, was genoop om die wedstryd te staak. Ná ’n kort gesprek met sy lynregter, ’n bestuurslid van beide klubs asook met die twee kapteins, het hy Montagu se vaskopstut met ’n geelkaart gestraf.

Rangers het die eenmanminder-situasie van die besoekers onmiddellik uitgebuit en met ’n verdoelde drie die telling tot 14-5 vergroot.

Montagu het minute later sy agterstand met ’n verdoelde drie verklein en Handré Ontong het sy eerste van twee drieë gedruk. Die doelskop was oor en die telling het na 19-14 vir die besoekers gegroei.

Rangers het egter onmiddellik teruggekap en twee drieë kort ná mekaar gedruk om die rustydtelling 26-19 vir Rangers te maak. Met die blaas van die rustydfluitjie het die humeure die tweede keer oorgekook. Van die spelers het mekaar aan die trui beetgekry en rondgestoot.

Ná die welkome blaaskans in die versengende hitte was die humeure darem weer op nul grade Celsius.

Kort na die aanvang van die tweede helfte het Montagu weer die voortou geneem toe Ontong ná ’n lynstaanflater deur Rangers sy tweede drie gaan druk het.

Die besoekers se Ryan George het net hierna, ná ’n vinnige lynstaan-ingooi, gaan druk. Aanvanklik het dit gelyk die skeidsregter ken die drie toe, maar ná ’n gesprek met sy lynregter het hy beveel dat die lynstaan weer geneem word.

Minute later het die besoekers wel hul voorsprong met ’n suksesvolle strafdoelpoging deur George effe vergroot, wat die telling na 29-21 geneem het.

Daarna het die wedstryd weens ’n handvol strafskoppe teen die besoekers meer in die tuisspan se guns geswaai. Dawie Conradie, plaasvervanger-heelagter, het met sy akkurate skopvernuf sy span se agterstand heeltemal uitgewis. Trouens, hy het met vier van die vyf strafskoppogings – almal binne bereik van die tuisspan se doelpale – geslaag om sy span met 33-29 weer voor te plaas.

Om nog skade tot die besoekers se teenspoed te voeg, is hul losskakel boonop met ’n geelkaart (die span se tweede) gestraf omdat hy die spel, volgens die skeidsregter, opsetlik vertraag het.

Weer het die tuisspan die situasie tot sy voordeel gebruik. Met die besoekers weer een man minder op die veld, het die regtervleuel, Taylor May, ’n onverdoelde drie gaan druk om die wedstryd 38-29 in sy span se guns te beklink.

Daar is tydens en ook ná die kragmeting uiteenlopende opinies gehuldig oor hoe Booysen (die skeidsregter) dié aksiebelaaide wedstryd hanteer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article