In ’n wipplank- en naelbyt-stryd waar Alberts vroeg die voortou geneem en behou het, was die oorwinning toe nie op dié dag vir hom beskore nie.

Robertson Rangers het moedig teruggeveg om ’n oorwinning in die doodsnikke van dié opwindende wedstryd te behaal.

Alberts se nuwe vlugvoetige skrumskakel, Jethro Tentennie, het sy staal van meet af aan gewys deur sommer in die eerste paar minute ’n pragdrie onder die pale te druk. Kort daarna het Orian Jack sy stempel op die wedstryd ná ’n skitterende breekslag deur Alton Hendrik (senter) afgedruk.

Maar Rangers het nie teruggestaan nie. Damian May het die doellyn oorgesteek en die telling na 14-7 gebring, gevolg deur Tentennie, wat sy tweede drie gedruk het.

Uitmuntende spanwerk deur Alberts se agterlyn, met Aqueel Adendorf en die ervare Curbert Micheals aan die stuur, het tot nog ’n briljante drie gelei en Alberts was 19-7 gemaklik voor.

Rangers het kort voor halftyd weer agter die pale gaan druk. Die manne het gaan drink water met Alberts wat 19-14 voor was.

Die tweede helfte het dramaties begin toe Rangers se Damain May ’n kraglopie uitgevoer het, wat tot ’n drie gelei het, en Rangers het die eerste keer in die wedstryd met 21-19 voorgeloop.

Alberts het egter verwoed teruggeslaan met Alton Hendriks wat die bal onderskep en ’n skitterende drie onder die pale gaan druk het – die telbord was 26-21 in Alberts se guns.

Rangers het verbete ’n dryfmaal afgedwing en suksesvol oor die doellyn geval – met 28-26 voor.

Steeds het Alberts, die nimmereinders, met aanval op aanval terugbaklei. Die span is beloon met ’n strafskop deur Aqueel Hendriks om die telling 29-28 in Alberts se guns te maak.

Met net nog twee minute oor het Rangers van ’n dryfmaalbeweging af oorgeval en ’n drie gedruk, wat hom ’n voorsprong van 35-29 gegee het. Alberts vhet tot die laaste sekondes aanvallend terugbaklei, maar kon nie die oorwinning terugsteel nie. Die skare is met briljante rugby deur beide spanne trakteer. . Alberts B het meer geluk gehad en Rangers B 24-17 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article