ROBERTSON. – Rangers Robertson en Montagu-klub het Saterdag (2 September) vir die laaste keer vanjaar kragte gemeet.
Dié kompetisie se laaste reeks ligawedstryde in die Breë-Langeberg-afdeling word eerskomende Saterdag (9 September) gespeel, maar Rangers, die 2022-Breë-Langebergstreekkampioen, en Montagu, naaswenner van verlede jaar, is egter reeds uit die wedloop om ’n plek in vanjaar se Top-12-kompetisie.
Trouens, die nuwe Breë-Langebergstreekkampioen vir 2023 is Robertson Town met Young Hamiltons van Worcester die naaswenner.
Laasgenoemde twee spanne beklee tans onderskeidelik die eerste en tweede plekke op die Breë-Langeberg-punteleer.
Al word die laaste ronde ligawedstryde eers die komende naweek gespeel, kan geen span dié twee meer inhaal of verbysteek nie.
En hoewel nog geen amptelike aankondiging in dié verband teen druktyd gemaak is nie, is dit egter bloot ’n formaliteit wat ná die afhandeling van alle ligaverpligtinge gedoen sal word.
Maar terug na die kragmeting tussen Rangers en Montagu-klub – buiten trots was basies niks op die spel vir dié twee spanne nie. Nogtans het albei van hulle indrukwekkende hardlooprugby opgedis. Altesaam 12 drieë is in die wedstryd aangeteken – ses aan elke kant.
Rangers het veral in die eerste helfte ’n puik vertoning gelewer.
Die tuisspan het die wedstryd aanvanklik soos ’n warrelwind begin, groot gebiedsvoordeel geniet en gedreig om die besoekers van die Callie de Wet-sportveld af weg te waai.
Rangers se vuurvreter-flank, Ronaldo Appollis, het twee keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier, terwyl Juan Beukman (skrumskakel) ook ’n drie onder die pale gaan druk het.
Handré Ontong (linkervleuel), wat later ’n driekuns drieë sou behaal, het die aanslag in die tweede helfte met Montagu se tweede drie van die wedstryd ingelui. Ontong het egter nie met die doelskop geslaag nie.
Montagu se eie verdediging was nie op peil nie, maar met sy terugvegpoging in die tweede helfte het hy ook hope gapings in Rangers se keerwerk gevind.
Ná Ontong se drie het Rangers se Shane Bekker gaan druk.
Daarna het Ontong vir sy tweede en Montagu se derde drie, wat hy ook verdoel het, oorgegaan.
Namate die einde nader gekruip het, het die besoekers die pap al dikker aangemaak.
Hierteenoor het dit gelyk asof Rangers se stoom begin opraak het.
Montagu se ommekeer in die tweede skof was merkwaardig. Waar hy in die eerste helfte slegs een keer die tuisspan se doellyn oorgesteek het, het hy in die tweede helfte sy gasheer se doelgebied vyf keer binnegedring.
Rangers het egter sy laaste Grootuitdaagbekerligawedstryd vir 2023 met 44-34 gewen.


