Die Rabe-/Rabiefamilie het die naweek van 11-13 Augustus sy 300-jarige bestaan in Suid-Afrika, asook die Rabe-/Rabiefamiliebond se 50-jarige bestaan, op luisterryke wyse met ’n vol program gevier.
Vanjaar is dit presies 300 jaar gelede wat die Rabe/Rabie-stamvader, Christiaan Rabe van Leipzig in Sakse, Duitsland, in 1723 as soldaat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) met die skip Borsselen in die Kaap aangekom het.
Rabies, jonk en tot so oud as 93 jaar, het van so ver as Gauteng, KwaZulu-Natal en Noordwes gekom en op die ou familieplaas, Leipzig, in die Nuyvallei saamgetrek en weer die ou familiebande opgetel.
’n Groot markiestent is spesiaal op die grasperk langs die hoofhuis opgeslaan wat as dié fees se basis vir die naweek gedien het.
Die opening van die nuwe Nuymuseum is Vrydag 11 Augustus gevier.
’n Wynproe deur Vian Bester en Pierre Rabie is ook aangebied, wat onder meer op die legendariese “White Leipzig”-wyn gefokus het, wat die eerste keer in 1923 deur Ferdie Rabie van Leipzig gemaak is.
Dit was die tweede wyn in Suid-Afrika wat van die kouegistingmetode gebruik gemaak het.
Aangesien die stamvader, Christiaan Rabe, van Duitsland gekom het, is tradisionele Duitse geregte spesiaal dié aand bedien.
Die jongspan het Saterdag (12 Augustus) hul beurt gekry met ’n springkasteel en ’n slangdemonstrasie.
Trekker- en waritte is na die verskillende Rabieplase in die Nuyvallei aangebied.
Die feesgangers het op De Vlei gestop en verversings in ’n lusernland geniet ten einde die mooi uitsig op die Rabiesberg te aanskou.
Hierna het hulle ’n olyfproe by Lion’s Creek bygewoon.
’n Opvoedkundige lesing oor die ontstaan en simboliek van die Rabie-familiewapen is deur die heraldiek-kenner Jos Rabie aangebied.
Tydens die Rabe-/Rabiefamiliebond se jaarvergadering is die bekende mediese internis van die Kaap, dr. Johann Rabie, as die nuwe voorsitter vir die volgende vyf jaar verkies.
Die familie het deurentyd onder die groot markiestent gekuier terwyl die Bram Potgieter-orkes musiek verskaf het.
’n Deftige dinee is Saterdagaand aangebied, waartydens ’n familielid, Johan Krige, sy nuwe boek, getiteld Die Rabies van die Nuy: Geskiedenis van die Familie 1723-2023, bekend gestel is en hy ’n oorsig daaroor gegee het.
Dié publikasie bestaan uit 598 bladsye en behandel elk van die familie se verskillende vertakkings in groot detail, tesame met foto-illustrasies.
Die fees is Sondag (13 Augustus) met ’n kerkdiens in die historiese kapel afgesluit.
Die diens is deur ds. Catherine (Rabie) Dreyer gelei. Tydens die diens het sy die Here gedank dat Hy die familie oor ’n tydperk van 300 jaar beskerm het.
Klein Sion Rabe is tydens dié diens gedoop.
Hierna is die ou familiebegraafplaas besoek, waarna die fees afgesluit is.
Almal wat die fees bygewoon het, is dit eens dat dit ’n groot sukses was.
Dit was veral opvallend hoeveel jonger Rabies die naweek se verrigtinge bygewoon het en hoe entoesiasties ook die jonger geslag was om hul herkoms te ontdek en meer van hul voorgeslagte te leer.





