Die verwoestende brand wat Woensdag 9 November in Roodewal uitgebreek het en waaroor Standard verlede week berig het, het ’n interessante skokwending geneem.
Standard het verlede week met verskeie bronne en familielede gepraat nadat die woning agter die Roodewal-woonstelle in puin gelê is weens ’n brand wat om 04:40 uitgebreek het.
Familielede van die 29-jarige Verushka Adams en haar kêrel, Denzil Fortuin (40), het ná die nuus van hul afsterwe blomkranse by die wrak gaan lê en in diepte vertel hoe dié paartjie gemis sal word.
Intussen is dit bevestig dat die 40-jarige Fortuin nooit dood is nie en tans in Worcester by ’n vriend se huis woon.
“Ons is geskok. Dit is baie vreemd. Ons het net begin berusting vind in die situasie en toe is hy springlewendig. Ek het omtrent geskrik toe hy hier by my huis opdaag,” vertel Adams se ma, Veronica, aan Standard.
Navrae is dadelik aan die Worcester-polisie gerig.
“Daar was inderdaad ’n brand waarin die 29-jarige vrou oorlede is. Fortuin is na die hospitaal geneem waar hy later beswyk het,” sê AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie.
Standard het uitgereik na Fortuin en sy familie en kon bevestiging kry dat hy nié dood is nie – alles nadat blomkranse gelê en ’n kruis met sy naam opgerig is by die huisie wat tot op die grond afgebrand het.
Klara Cupido, Fortuin se suster, vertel sy was geskok om die nuus te ontvang en het toe na Worcester gereis om antwoorde te soek.
“Ons het hom by sy vriend se huis opgespoor. Hy is springlewendig. Ons is dankbaar hy is veilig, maar ons soek hom nou by ons. Ons is op soek na ’n rygeleentheid van Worcester na Paarl sodat hy by sy familie kan wees. Hy is nog geskok ná die afsterwe van sy vriendin en sy kop is deurmekaar.”
Dit is egter nog onseker waar die verwarring ontstaan het dat familielede sowel as die polisie geglo het Fortuin is in die brand dood.
Die omstandighede rakende die brand is nog onbekend. Ooggetuies het aan Standard gesê hulle het nie ’n struweling gehoor of iemand wat om hulp roep nie. Omstanders sê hulle het die rook geruik en later die vlamme gesien.
Die brandweer is dadelik ontplooi danksy ’n buurman se oproep.
Ander bespiegelings, wat misdaad insluit, het ook die ronde gedoen. Die Worcester-polisie kon dit egter nie bevestig nie.
’n Lykskouing is gedoen en die ondersoek duur voort.





