’n Saak van aanranding en eiendomsbeskadiging is teen ’n DA-wyksraadslid van die Witzenberg-munisipaliteit, Gwen Franse, by die polisie aanhangig gemaak.
Die voorval het die afgelope naweek in Bo-op-die-Berg buite Ceres plaasgevind waartydens die raadslid na bewering die 18-jarige Morné Arries met ’n selfoon aangerand het.
Die geskil het glo gehandel oor Arries wat musiek vroegmôre tydens ’n partytjie kliphard gespeel het.
- Volgens kaptein Gerrit van Schalkwyk, bevelvoerder van die speurdiens in Prince Alfred Hamlet, het
“Die onderonsie het gegaan oor harde musiek wat gespeel is, dit is die kort en lank daarvan,” het Van Schalkwyk Standard meegedeel.
Hy sê dat die saak verder ondersoek word en daar word nog gewag vir bewysstukke wat ingehandig moet word.
Franse is dieselfde dag vrygelaat en verskyn weer saam met Arries in die Ceres-landdroshof op 25 Julie.
Volgens ’n berig in Rapport het Arries in die vroeë oggendure partytjiemusiek naby Franse se huis gespeel. Franse het Arries hieroor gekonfronteer en daarop aangedring dat die musiek sagter gestel moet word. Hierna het sy hom na bewering aangerand en Arries het ’n wond aan sy gesig opgedoen.
Volgens ’n familielid waarmee Standard gepraat het en wat weens moontlike viktimisasie anoniem wil bly, het Franse vir Arries aangerand met die aankoms van die polisie wat sy ontbied het.
“Daar was kapmerke onder sy [Arries] oogbanke en wange, asook snymerke.”
Die familielid beweer dat Arries wel sy musiek sagter gesit het toe die raadslid aan sy deur geklop het, maar dat hy steeds aangerand is.
Die familielid beweer verder dat Franse ook Arries se televisie en vensters stukkend geslaan het.
“Sy het toe ook haar seun ontbied, wat Arries se vriende aangerand het.”
Franse het ook intussen ’n saak van crimen injuria, naamskending, intimidasie en eiendomsbeskadiging teen Arries gemaak. Hierna is hy toe ook Maandagaand in hegtenis geneem en weer dieselfde aand vrygelaat.
Maar volgens nog ’n familielid van Arries het Franse nie enige eiendom beskadig nie. Van Schalkwyk het dié inligting bevestig.
Volgens hom het Arries sy musiek “ ’n bietjie sagter gesit,” wat die onderonsie aangehits het.
Hy het verduidelik Franse het wel vir Arries aangeval toe die polisie reeds op die toneel was, maar dit is onduidelik presies hoe die polisie op die voorval gereageer het.
Verder het hy bevestig Franse het ook haar seun ontbied.
Van Schalkwyk het ook bygevoeg daar is gedurende 2021 ook ’n saak van aanranding teen Franse gemaak is wat steeds op die hofrol verskyn.
Ná vele navrae aan die Witzenberg-munisipaliteit het David Nasson van die munisipale bestuurder gesê “die munisipaliteit dra nie kennis van die aangeleentheid nie”.
“Ingevolge ons gedragskode vir raadslede hanteer die speaker alle gevalle waar raadslede betrokke is, en wat ons [Witzenberg-munisipaliteit] wel kan bevestig, is dat daar geen klagte teen Franse by die munisipaliteit aanhangig gemaak is nie,” aldus Nasson.
Standard het navrae aan die speaker, Elizabeth Sidego, gerig, maar teen druktyd geen kommentaar ontvang nie.



