Diegene met ’n voorliefde vir komedie se lagspiere gaan Sondag (22 September) oortyd werk wanneer die komiese musiekblyspel Tietie Giegie het ’n storie die eerste keer op die planke gebring word.
Die oorspronklike konsep van Tietie Giegie het ’n storie is dié van Shaheen Bergh, ’n musikant van Worcester. Die raadslid Naomi Roelofse-Nel, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het die teks geskryf. Sy is ook die regisseur.
Volgens Roelofse-Nel het Bergh haar kort nadat sy vroeër vanjaar ’n Speeltoneel-kortfilm-dramakursus voltooi het, meegedeel dat hy nou al vir jare met ’n storie in sy kop rondloop wat hy graag op die planke wil bring.
Sy sê sy het Bergh toe gevra om die storie aan haar te vertel.
Volgens Roelofse-Nel het hy haar van Le Sueurstraat in Worcester in die Apartheidsjare vertel.
Volgens Roelofse-Nel is sy meegedeel die Kapenaars wat destyds in Worcester kom kuier het, het Le Sueurstraat sommer Kantienstraat gedoop omdat daar glo baie “kantiene” in die straat was.
“In ‘Kantienstraat’ het jy van enigiets onder die son gehoor – van politiek en sport tot die jongste skindernuus. Benewens die baie kantiene was daar ook ’n haarkappersalon, kleuterskool en baie ander winkeltjies.”
Volgens Roelofse-Nel was Tietie Giegie ’n vooraanstaande vrou wat baie in Kantienstraat gekuier het. Dit het haar tot ’n val gebring.
Roelofse-Nel sê Tietie Giegie is ’n baie ongeskikte vrou wat altyd haar neus in almal se sake steek . . . ‘’n regte busy body’. Volgens haar het Tietie Giegie baie stories om te vertel.
Roelofse-Nel sê sy het aanvanklik gedink Bergh spot toe hy haar vra om die rol van Tietie Giegie – die hoofrol – te vertolk.
Volgens haar het hy gesê hy kan aan niemand anders dink om dié rol te vertolk nie.
“My kop het toe begin werk. Ek het gedink dit kan werk en dat dit ook ’n groot geleentheid vir my is om my dramatalent uiteindelik uit te leef en verder te ontwikkel.”
Volgens Roelofse-Nel, wat volgende maand haar 68ste verjaardag vier, is hierdie haar eerste rol as volwassene in ’n verhoogproduksie.
“My grootste uitdaging was om binne-in Tietie Giegie se kop te klim; om in haar skoene te staan en die mens te word wie sy is.”
Volgens Roelofse-Nel het sy in Maart/April vanjaar reeds aan die teks begin skryf. Sy sê Bergh het plaaslike musiekbekendes wat by die jaarlikse Golden Footsteps Sangfees optree, ook by die produksie betrek.
Die Kaapse sanger Fuad Richards en sy span is ook deel van die produksie.
Sy sê hoewel sy die teks geskryf het, het sy baie insette van almal wat by die produksie betrokke is, ontvang.
Roelofse-Nel sê die boodskap wat hulle deur middel van Tietie Giegie het ’n storie wil oordra, is: “Klim uit jou omstandighede. Moenie laat die wêreld jou insluk nie.”
Die blyspel begin om 15:00 en toegang is gratis.





