Volgens die plaaslike slangvanger André du Preez, beter bekend as “Silverfox”, ervaar die streek vanjaar ’n oplewing in slange.

“Volgens my rekords ervaar ons vanjaar ’n oplewing in slange. Dit was ’n lang winter en ons nagte is nog redelik koud, so hulle bly honger. Nou jag hulle in die dag. Die lang winter beteken ook dat daar meer muise en rotte is.”

Hy verduidelik ook dat hy tydens vanjaar se winter reeds sy vermoede gehad het oor die komende slang-seisoen.

“Ek weet nie hoekom nie, maar as ek tydens die winter baie bruinslange en skaapstekers moet gaan haal, is dit altyd ’n aanduiding dat dit ’n bumper-jaar gaan wees.”

Sedert die slangseisoen se amptelike aanbreek op 15 September het Du Preez al 66 slange verwyder.

“Die meeste daarvan is Kaapse kobras en pofadders. En 85% daarvan is uit residensiële eiendomme verwyder. Aangesien daar baie meer rotte en muise is, en hulle ook honger is, gaan soek hulle mos maar kos by huise en die slange volg hulle.”

In sy inskrywing op sosiale media waarsku hy mense om nie hul honde en katte se kos snags buite te laat nie, juis omdat rotte en muise daarvan sal eet.

“Muise en rotte = slange. Dis die natuur se manier om ’n balans te handhaaf. Kyk waar julle jul voete neersit, kyk as julle goed optel, loop met ’n flits as dit beurtkrag is. Sorg dat jul buitedeure nie openinge onder het nie. As daar een is, sit ’n sandsokkie voor . . . Probeer jou plek skoon hou. Gooi onnodige rommel weg. Sulke goed lok muise en rotte,” skryf hy.

Hy gee ook raad oor hoe ’n mens kan uitvind of jy ’n glibberig gas tuis het.

“As jy vermoed daar is ’n slang in jou huis, wat maak jy? As ons slaap en daar is ’n slang in die huis, begin hulle beweeg, want daar is nie beweging en vibrasie nie. As jy opstaan en goed is van die tafel gestamp, is daar dalk ’n kuiergas. As jy goed hoor skuif in die nag is dit nog ’n teken. Vat ’n sif met meel. Strooi die meel in jou deur se kosyn op die vloer. As jy môre-oggend opstaan en daar is sleep- of seilmerke, het jy ’n kuiergas.”

Volgens hom wis hy nie van enige mense wat sedert die seisoen se begin gepik is nie, maar wel van ’n paar honde. Hy waarsku ook dat daar al die afgelope twee jaar ’n tekort aan teengif vir slangbyte is. Hy raai ook mense aan om die toepassing African Snake Bite Institute op hul selfone af te laai.

“Maak nie saak waar jy is nie, sit jou ligging in en dit gee jou ’n nommer van ’n slangvanger naby jou. Dit help jou ook om slange te identifiseer.”

. As jy deur ’n slang gebyt word, moet jy onmiddellik die hospitaal skakel en vir hulle sê dis ’n slangbyt en dat jy op pad is. Hou ook Silverfox se sommer byderhand – 082 305 9209.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article