Die leeus wat vroeër die maand by Fairy Glen uitgesit is weens erge brandwonde ná die verwoestende brande in die berge bo Worcester.

Credit: SYSTEM

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings beweer Fairy Glen se leeus was onwettig aangehou.

Dit kom nadat die leeus erge brandwonde tydens die onlangse weghol-veldbrand opgedoen het. Die leeus is toe verlede week, Donderdag 1 Februarie, weens die erge wonde uitgesit.

Pieter de Jager van Fairy Glen het in Standard & Gazette se vorige berig (“Leeus oorleef nie chaotiese brand”, Donderdag 8 Februarie), gesê verteenwoordigers van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings en Natuurbewaring was by hom toe besef is die leeus is in ’n slegte toestand.

Volgens Grace de Lange, bedryfshoof van die Nasionale Raad vir Dierebeskermingsverenigings, het hulle eers bewus geraak van die leeus se toestand met hul besoek aan die wildreservaat op 1 Februarie.

“Die rede hoekom ons die reservaat besoek het, is omdat ons ’n klagte oor die leeus ontvang het,” verduidelik De Lange.

Standard & Gazette het gevra watter maatreëls aan voldoen moet word om leeus aan te hou.

“Dit verskil van provinsie tot provinsie. Daar is verskillende verordeninge.”

Volgens De Jager het die permitte vir die leeus verval.

“Die lisensie wat ter sprake is, het verval. Ek is eerlik. Dis nie dat daar nooit lisensies en permitte was nie. Die een permit het tydens die Covid-19 pandemie verval. Al was ons toe vir die pandemie, het ek steeds aansoek gedoen om die permit te hernu, maar Natuurbewaring het gesê omdat ons toe is, hoef ek nie aansoek te doen nie.

“So, dit berus eintlik by Natuurbewaring. Die permit waarvan gepraat word, is die permit om diere aan mense ten toon te stel – die dierebeskermingswet-lisensie,” het hy tydens ’n telefoniese gesprek verduidelik.

Verder sê hy die leeus se kampe was op standaard.

“Die permitte vir die kampe is uitgemaak toe ons die leeus jare gelede huis toe gebring het. Die kampe is deur Natuurbewaring goedgekeur nog voordat ons die leeus kon huis toe bring.”

Bewerings doen ook die ronde dat die leeus nie reg versorg is nie.

“Die vorige veearts wat ná die brand na die leeus omgesien het, het glo nie die reg gehad om medikasie toe te dien nie en het ook nie die regte medikasie ingespuit nie,” verduidelik De Jager.

Die Nasionale Raad vir Dierebeskermingsverenigings het ook gesê hy is tans besig met ’n ondersoek.

“Ons is tans besig om dinge by Fairy Glen deeglik te ondersoek.”

De Jager verwelkom die ondersoek.

“Ek wil graag hê daar moet ’n ondersoek wees. As daar mense is wat verantwoordelik is vir wat met die leeus gebeur het, moet hulle vervolg word. Nalatigheid was gewis betrokke.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article