Quickies met die trofee wat die span oor die naweek verower het.

Credit: SYSTEM

Quickies-krieketklub het Maandag 18 April die jaarlikse Roodewal-Paastoernooi-trofee gewen toe hy Orchard United in die eindstryd geklop het.

Nege spanne het aan die toernooi deelgeneem en op ’n rondomtalie-basis gespeel. Quickies het in groep B teen Very Dangerous, Pro Eagles en Kings meegeding en tweede in die groep, ná Very Dangerous geëindig. Very Dangerous het die span in die laaste groepwedstryd op Ryderpark geklop.

Quickies moes toe teen Black Leopards op dieselfde veld in die halfeindstryd speel. Die span klop Leopards en dring deur na die eindstryd teen Orchard nadat hy Very Dangerous op Edengarden uitgeskakel het.

Weens swak lig is die eindstryd tot 10 boulbeurte per span beperk. Orchard teken slegs 40 lopies van sy 60 balle aan met Quickies wat die telling in die agste boulbeurt met vier paaltjies staande bereik om sy tweede titel binne twee weke te behaal.

Die junior eindstryd is deur Very Dangerous teen Pro Eagles gewen, en Orchard United se vroue het ook hul tweede titel gewen toe hulle Black Leopards in die eindstryd geklop het.

Die organiseerders bedank alle deelnemende spanne asook betrokkenes vir ’n puik toernooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article