Die Quickies-o.16-krieketspan is deur na die halfeindronde van die Junior Burgermeesters-toernooi. Foto:


Worcester se Quickies-krieketklub se o.16- junior span het vir die Junior Burgermeesters-toernooi se halfeindronde gekwalifiseer nadat hulle in ’n aksiebelaaide wedstryd teen Hartwig Lions gelykop gespeel het.

Quickies het die loot gewen en Lions ingestuur om eerste te kolf. Lions kon slegs 46 lopies in hul toegelate 15 boulbeurte aanteken, wat na ’n baie maklike teiken vir Quickies gelyk het.

Quickies het hulle egter in ’n begeesterde Lions-boulaanval vasgeloop en moes enduit gefokus bly, maar het met reëlmaat paaltjies verloor, met Keathan van Rooyen wat die Quickie-kolflys met sy verwoestende boulwerk aan flarde geskeur het. Hy het vier paaltjies in een boulbeurt laat kantel, wat Quickies op 30/7 laat steier het.

Quickies se laaste paaltjie is met ’n skitterende uithardloop bewerkstellig met die telling gelykop op 46 elk. Die wenlopie is egter nie voltooi nie en die wedstryd het gelykop geëindig.

Quickies het egter genoeg gedoen om eerste in Groep B te eindig en vir die halfeindstryd teen Clovers te kwalifiseer.

Groep A is deur Orchard gewen wat teen View Pro’s (tweede in Groep A) in die ander halfeindwedstryd sal speel.

Albei halfeindwedstryde sal Saterdag op Eden Garden gespeel word.

Orchard vs View Pro’s sal om 11:00 kragte meet terwyl Quickies vs Clovers om en by 14:00 sal plaasvind.

Die eindstryd sal volgende Saterdag op Ryderpark beslis word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article