Die “juweel van Worcester”, Q square, se ontstaan kan teruggespoor word na byna 90 jaar. En vandag is hierdie heerlike sentrum in die hart van Worcester steeds ’n ware sakekern.
Q square, wat eers as Quénet’s Arkade bekend gestaan het, het sy ontstaan in 1934 gehad.
Leon Quénet het ’n fotografie-ateljee, ’n musiekwinkel en ’n pottebakkerywinkel langs Quénet’s Apteek geopen. Sy pa, George Alfred Quénet, het Quenet’s Apteek bedryf en ook ongefermenteerde wyn gemaak, wat geheelonthouers vir nagmaal kon gebruik.
Hierdie twee ondernemings was met ’n deurloop verbind. Ná die skuif van Meiring & Quénet Chemists and Druggists van Kerkstraat na Hoogstraat in 1934, het dié onderneming se naam na Quénet’s Apteek verander.
Die Quénet’s het in die 1950’s besluit om die De Jong-gebou uit te brei en winkels te skep wat verhuur kon word om bykomende inkomste te genereer.
Hier was winkels soos die vroue-uitruster Pam’s Fashions, wat geleë was waar Beluchi’s vandag is. Ook die bekende kunstenaar Jean Welz se vrou, Inger Welz, het ’n winkel aan die linkerkant langs Pam’s gehad, waar Quénet’s Jag & Hengel vandag is.
Inger Welz het gespesialiseer in ingevoerde Deense pottebak-kerskuns en ander antieke ware. Haar winkel was ’n geskenkwinkel wat in tuisdekor spesialiseer het. Langs haar was eens April Showers-bloemiste, wat vandag nog – 47 jaar later – ook in Q square ’n tuiste het. Aan die agterkant van die Arkade was Alf Taylor se manshaarsnysalon.
Aan die regterkant was Lew Strydom se fotografie-ateljee. Lew Strydom het in onder meer skool- en spanfoto’s spesialiseer.
In ’n stadium het ’n mevrou Brewis ook ’n haarsalon in die Arkade bedryf en op ’n tydstip was daar ook ’n agentskap vir ’n naaimasjienmaatskappy in die Arkade.
En vandag, 89 jaar nadat hul voorvader die Quénet’s se eerste sakeonderneming hier begin het, woeker die gesin nog in die bedryf.
Die vyfde geslag aptekers uit die Quénet-familie staan vandag agter die voorskriftoonbank by Quénet’s Apteek, wat deesdae as The Local Choice Pharmacy Quénet’s bekend staan.
Juis hierdie geslagte lange familieverbintenis tot die apteek dra tot die sukses van die onderneming by.
Hier is George van der Vyfer aan die stuur saam met nog drie aptekers, met ’n wye reeks produkte en dienste.
Wat The Local Choice Pharmacy Quénet’s uniek maak, benewens die verskaffing van medikasie, is die afgeronde gesondheidspakkette wat hy aan sy klante bied. Quénet’s bied kliniekdienste soos bloeddrukmonitering, bloedglukose-monitering, cholesterol-siftingstoetse, MIV-toetse en hemoglobien-toetse.
Terselfdertyd streef die apteek daarna om in alle ander gesondheidsbehoeftes te voorsien, soos gesondheidsaanvullings en pasiënthulpmiddels.
Quénet’s is ook die enigste geregistreerde reiskliniek in die Boland.
Quénet’s Apteek bied verder ’n wye verskeidenheid skoonheidsreekse in sy skoonheidsafdeling en is ook baie bekend vir sy uitstekende fotografiese dienste en toerusting.
Nog in die Quénet’s-stal is die immergewilde Quénet’s Hunting & Fishing, wat deur Willie Augustyn bestuur word, met ’n wye verskeidenheid jag- en hengel-toebehore, saam met die personeel se vriendelike en eerstehandse kennis van als in die bedryf.
Q square is vandag ’n luukse leefstylsentrum met iets vir almal.
Die beste biefstuk word by Hussar Grill in Q square aangetref.
Verder is die Stockenstrohm-gedeelte van Q square opgegradeer met ’n Capitec-tak wat binnekort open.
Q square is as ’t ware die “hart van Worcester” waar iets vir almal se genot te kry is.





