Die Pumas-vlakkiekrieketklub se A-span het op 28 Januarie aan die Pro 10-vlakkiekriekettoernooi in Oudtshoorn deelgeneem, waar hulle as die wenners weggestap het.
Die Pumas het in die eerste wedstryd in Oudtshoorn – teen die Legends-vlakkiekrieketklub – die loot gewen en eerste geboul.
Hulle het die Legends met 41 lopies in vyf boulbeurte uitgehaal en die wedstryd met een paaltjie gewen.
In die tweede wedstryd van die dag het die Pumas teen die Firestone-vlakkiekrieketklub van Oudtshoorn te staan gekom, waar die Worcesterse vlakkiekrieketspan 79 lopies in 10 boulbeurte aangeteken het.
Ná die Pumas se boulbeurt het die kolwers ’n uitdagende stryd gehad toe twee van die span se paaltjies platgetrek is.
Hulle het nietemin sonder te veel uitdagings weer eens as die wenners met ’n sege met nege boulbeurte uit die stryd getree.
In die eindstryd verlede Saterdag het die Pumas teen die Champs-vlakkiekrieketklub van Oudtshoorn gespeel.
Die Pumas het eerste gekolf en was onder groot druk van die boulers van die Champs.
Die Pumas het uiteindelik steeds bo geëindig en ’n telling van 60 lopies in 10 boulbeurte aangeteken. In die laaste paar minute van die wedstryd was dit weer die Champs se beurt om te boul. Die Pumas se boulaanval was goed en die paaltjies het bly val.
Aan die einde van die wedstryd het die Pumas die Champs-vlakkiekrieketspan met 52 lopies verslaan en is as die wenners van die Oudtshoorn- Pro 10- vlakkiekriekettoernooi gekroon.




